Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Vermoorde paar leef vir kinders

Deur: Louise Ferreira 2012-09-03 21:25
Leon en Marié Sim was “van die beste vesel op aarde gemaak”.

Só is gister voorgelees uit ’n huldeblyk van ’n familievriend op die Sims se begrafnisdiens in die Gereformeerde kerk Kempton Park-Noord.

Marié (68) en Leon (71), ’n ekonomie-onderwyser aan die Global Secondary School in Kempton Park, is byna twee weke gelede in hul huis in Cress­lawn aan die Oos-Rand vermoor.

Hulle het die Anneliens- gastehuis besit en bestuur.

Die kerk was stampvol en familielede het rooi tartan-dasse gedra ter ere van Leon se Skotse herkoms. ’n Enkele doedelsak­speler het vooraf op die kerkterrein staan en speel.

Ds. Izak de Villiers het spesiaal gisteroggend van Polo­kwane gery om die diens te kom lei. “Leon en Marié het dít nie verdien nie,” het De Villiers gesê.

“Hulle was gelowige kinders van die Here, twee mense wat op wonderlike wyse ingestel was op mekaar. Hulle het geleef vir hul kinders.

“Leon was die stil een, die denker, lief vir ’n boek. Marié was die stem, lief vir gesels. Sy was altyd aan die beweeg en besig met iets.

“Wat ’n voorreg dat Leon en Marié deel was van ons lewens en dat ons wat hier sit iets van hul warmte en liefde kon ervaar.”

Die egpaar is in die Zuurfontein-begraafplaas begrawe.

Hulle laat drie kinders, John, Magda en Nicolaas, en een kleinkind agter.

- Eddie Fisher (38), wat vroeër weens die dubbele moord gearresteer is, het gister vir die tweede keer in die hof verskyn. Die verrigtinge is uitgestel.
 
«Terug