Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘Vlugte, dolomiet sal dié toring g’n raak’

Deur: Cobus Claassen 2012-05-29 07:20
Dolomiet en lugverkeer sal nie struikelblokke wees vir die beplande wolkekrabber van 110 verdiepings wat vir Centurion beplan word nie.

Die Tshwane-metro het dié versekering gegee in ’n voorlegging oor sy opspraakwekkende Symbio City-ontwikkeling.

Tshwane het onlangs sy planne bekend gemaak wat die bou van die hoogste gebou in Afrika en een van die hoogste ter wêreld as deel van ’n ultramoderne ontwikkeling by die Centurionmeer behels.

Een van die drie torings sal uit 110 verdiepings bestaan en 447?m bo die Centurionse landskap uittroon.

Die ander twee torings sal onderskeidelik uit 80 en 60 verdiepings bestaan. Al drie sal in die meer gebou word.

Twee van die torings sal uit kantoorruimte bestaan en een sal luukse wooneenhede huisves.

Daar is gemengde gevoelens oor die ontwikkeling en daar is talle vrae oor of dit wys is om so ’n gebou in ’n dolomietgebied soos Centurion te bou.

Daar is ook twee lugmagbasisse in die omgewing, Waterkloof en Zwartkop, en dis onseker of die wolkekrabber ’n uitwerking op vliegroetes gaan hê.

Subesh Pillay, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir stadsbeplanning, sê omvattende toetse sal gedoen word om vas te stel of die meer enige dolomiet-gevare inhou.

“Daar sal geboor moet word om vas te stel of daar enige holtes is, ongeag of ’n gebou van drie, vyf of 110 verdiepings beplan word.”

Pillay sê die ontwikkeling sal ten nouste saam met albei lugmagbasisse en die Burgerlugvaartowerheid (BLO) aangepak word.

Hy sê daar is op Centurion besluit omdat dit goed geleë is langs die N1-snelweg en ’n Gautrein-stasie en naby die O.R. Tambo-lughawe is.

“Ons wil met die indrukwekkende gebou internasionale maatskappye lok om hul hoofkwartiere hier te vestig.

“Baie maatskappye wil nie meer kantore in ’n oorvol Sandton vestig nie en Midrand is nie die ideale korporatiewe bestemming nie.”

Pillay sê Centurion het oor die jare heen nie veel ontwikkel nie en die Symbio City-projek kan ekonomiese groei ’n aansienlike hupstoot gee in dié omgewing.
 
«Terug