Kaapstad. – Oortuig Suid-Afrikaners dat die voormalige spioenbaas Mo Shaik die beste persoon is om die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika se hoof van internasionale beleggings te wees.
Dít is die DA se beroep op Pravin Gordhan, minister van finansies.
Shaik, voorheen direkteur van buitelandse intelligensie in die Staatsveiligheidsagentskap, is onlangs in dié pos aangestel en op ’n bestuurskursus by die Harvard-sakeskool in Amerika gestuur.
Tim Harris, DA-LP en skaduminister van finansies, het vroeër gevra dat Gordhan Shaik se aanstelling verduidelik.
Gordan het Donderdag geantwoord die pos is intern geadverteer en ’n werwingsagentskap het nege kandidate geïdentifiseer, waarna vier op ’n kortlys geplaas is.
Ná onderhoude is Shaik as die beste kandidaat benoem, onder meer oor sy sterk bande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.
“Mnr. Shaik het ook sterk analitiese vaardighede en ’n begrip van nasionale prioriteite getoon,” het Gordhan gesê.
“Sy onlangse opleiding by die Harvard-sakeskool vergoed vir sy gebrek aan ervaring om ’n kommersiële onderneming te bedryf.”
Harris het Gordhan se bereidwilligheid om sy vrae te beantwoord gister verwelkom, maar wou ook weet hoekom die pos nie buite die bank geadverteer is nie.
Hy wou verder weet op grond waarvan die nege kandidate geïdentifiseer is wie die lede van die onderkomitee was wat die vier kandidate gekies het.
Harris het ook gesê hy wil weet heo die staat dit regverdig om Shaik na ’n kursus te stuur wat van R300 000 tot R500 000 kos.
“Dit is nie duidelik of Shaik die sake-ervaring en kwalifikasies vir dié belangrike pos het nie, selfs ná ’n kort kursus by Harvard,” het Harris gesê.