Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Vrees word Mars-triomf

Deur: Elsabé Brits 2012-08-06 20:57
Kaapstad. – “Vroeër was dit een klein treetjie (vir die mensdom), maar nou is dit ses groot wiele – en só lyk hulle op Mars se grond.”

Met dié woorde is die suksesvolle landing van Nasa se Mars-wetenskaplaboratorium, beter bekend as die verkenningstuig Curiosity, gister aangekondig met ’n twiet deur dié tuig.

Kort voor dié twiet het die tuig laat weet: “Ek is veilig op Mars. Krater Gale, ek is binne-in jou!”

Een van die 700 mense betrokke by dié landing is die oud-Matie dr. Japie van Zyl van Namibië wat al sedert 1986 by Nasa se Jet Propulsion Laboratory werk, as mede- direkteur van strategie.

Die mees komplekse landing ooit is perfek uitgevoer ná ’n reis van 36 maande na die Rooi Planeet. Curiosity het geland naby ’n berg (Sharp), wat byna 5 km hoog is, binne-in die krater Gale, wat 155 km in deursnee is. Hy is sagkens laat sak met behulp van ’n ruimte-hyskraan wat minute voor die landing ontplooi is.

Die tientalle navorsers en tegnici wat deel van die ruimtespan is, het ten tyde van die landing om 07.31 in die sendingbeheerkamer in Pasedena, Kalifornië, opgespring en gejuig.

Die landing is regstreeks uitgesaai met ’n vertraging van sowat sewe minute tussen Mars en die aarde. Daar is na die landingstyd verwys as “die minute van vrees en angs” en later na “die minute van triomf”.

Dr. Charles Bolden, hoof van Nasa, het gesê: “Vandag het die wiele van Curiosity die weg begin baan vir menslike voetspore op Mars.

Dié mees gevorderde ontdekkingstuig wat nog gebou is, soek nou na antwoorde op die oeroue vrae of daar lewe op Mars was en of die planeet in die toekoms lewe sal kan huisves.”

Binne twee uur ná die landing het Curiosity die eerste foto’s van een van die navigasiekameras gestuur. Oor ’n paar dae sal die hoëresolusie-kleurkameras die omgewing begin afneem.

Op die eerste foto’s lyk die grond in die krater gruisagtig.

Curiosity het tien wetenskaplike instrumente aan boord en sal twee jaar op Mars werk. Van die tegnologie is heeltemal nuut, soos ’n laser om die samestelling van rotse oor ’n afstand te bepaal.

Die tuig sal ’n boor en skepgrafie wat aan die punt van sy robotarm is, gebruik om monsters te versamel en aan boord te ontleed.

Hy is twee keer langer en vyf keer swaarder as die vorige verkennings- tuie, Spirit en Opportunity.

Kleigrond en ander minerale wat voorheen op die planeet gevind is, dui daarop dat Mars ’n nat geskiedenis gehad het – en water dui moontlik op lewe.


Twee uur nadat die ontdekkingstuig Curiosity gisteroggend op Mars geland het, het hy sy eerste foto’s na die aarde teruggestuur. Die foto is in die krater Gale, waar die tuig geland het, deur ’n navigasiekamera geneem. Oor ’n paar dae sal hoëresolusie-kleurkameras foto’s begin neem en na die aarde stuur. Foto: NASA/JPL-Caltech


Vreugde in die sendingbeheerkamer van die Mars-wetenskaplaboratorium in Pasedena, Kalifornië, ná Curiosity se suksesvolle landing. Foto: NASA, AP

 
«Terug