Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Vuurjel ‘veiliger as paraffien’ as jy dit reg gebruik

Deur: Jody Nel 2012-07-07 00:01
 Vuuraansteekjel is op sigself nie gevaarlik nie, maar die manier waarop mense die produk gebruik, kan tot ongelukke lei.

Prof. Kevin Bennett, direkteur van die Energienavorsingsentrum aan die Universiteit van Kaapstad, het gesê dié jel is eintlik veiliger as ander brandstowwe soos paraffien.

Lulu Rossouw (2) van Bela- Bela (Warmbad) het verlede maand tweedegraadse brandwonde aan haar gesig en hande opgedoen nadat vuuraansteekjel in haar pa se hande ontplof het.

Pippie Kruger (3) van Lephalale (Ellisras) het vroeër in ’n soortgelyke voorval derdegraadse brandwonde op 80% van haar liggaam opgedoen.

“Daar is baie energie in ’n houer vuuraansteekjel, maar dit is beheerbaarder as ander brandstowwe,” het Bennett gesê.

Hy is onwillig om die jel vir sulke ontploffings aanspreeklik te hou, want dis onbekend hoe die houers gehanteer word wanneer sulke voorvalle gebeur.

Adrienne Barrett, mede-eienaar van Greenheat, ’n plaaslike vervaardiger van vuuraansteekjel, het verduidelik hoe die verkeerde gebruik van die produk tot brandwonde kan lei:
“Die aanwysings (op die bottel) sê die jel moenie op ’n oop vlam of aangesteekte kole gegooi word nie. As jy dit wel doen, kan die jel se walms vlam vat en die vlam sal terug in die bottel getrek word.

“Dit sal veroorsaak dat die jel, wat nou aan die brand is, uit die bottel gedwing word.”

Barrett het gesê die jel is nie-plofbaar, maar die druk in die bottel weens die walms wat vlam gevat het, dwing die jel uit die bottel.

CNNhet verlede jaar berig die Amerikaanse kommissie vir die veiligheid van verbruiksprodukte het 2 miljoen bottels vuuraansteekjel daar onttrek ná minstens 65 brandgevalle waarin twee mense dood en 75 beseer is.

Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies het nie op vrae oor die verpligte spesifikasies waaraan die jel moet voldoen, gereageer nie.

«Terug