Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘5 sek. kon kind laat leef’

Deur: Dries Liebenberg 2012-07-12 22:11
Durban. – In ’n adrenalien-gevulde oomblik het ’n voormalige brandweerhoof houtpale van ’n klimraam uit die grond geruk om ’n venster oop te breek sodat ’n swanger vrou en haar kinders uit ’n brandende huis gered kon word.

Gabby Diedericks het gesê nadat hy en ander Tara Blignaut en haar oudste seun, Wade (7), eergisternag deur die venster gered het, het hulle beurte gemaak om in die rookgevulde kamer na die driejarige Riley te soek.

Die vierde keer toe dit weer Diedericks se beurt was om deur die venster in die kamer te klim, het hy Riley in die hoek van die slaapkamer gekry.

Riley was toe al bewusteloos.

Ondanks sowat 40 minute se noodhulp is hy later deur ’n dokter van ER24 voor sy ouerhuis dood verklaar.

“As ek hom net vyf sekondes vroeër gekry het... As ek hom net met die eerste probeerslag gekry het,” het ’n verslae Diedericks gister gesê.

Ondanks sy 27 jaar ondervinding as brandweerman was hy gister platgeslaan oor Riley se dood. “Ek het nie antwoorde nie,” het hy gesê.

Sy skoondogter, Gaylene, wat ’n paar huise van die Blignauts in die buurt Waterfall woon, wou eergister omstreeks 19:30 met haar baba gaan slaap toe sy gille hoor.

“Ek het eers gedink iemand word vermoor.

“Toe ek buite kom, het ek gehoor sy gil: ‘Iemand, help! My huis is aan die brand! Ons kan nie uitkom nie!’ ”

Omdat haar man, Ashley (ook ’n brandweerman), in die Durbanse middestad aan diens was, het Gaylene haar skoonpa gebel.

Diedericks sr. woon sowat 3 km van die Blignauts.

Ander bure het ook Blignaut se gille gehoor en gaan help.

Volgens Diedericks het Charl Koen die veiligheidshek by die voordeur oopgedwing, maar die hoofbrand was in die sitkamer.

Diedericks het pale uit die grond geruk sodat hy die diefwering voor die kamervenster waar Blignaut en haar seuns vasgekeer was, kon oopbreek.

Toe sy buitentoe getrek is, het sy al brandwonde aan haar rug gehad.

Wade is ook met die eerste probeerslag bevry.

Diedericks, Koen en ’n veiligheidswag van Blue Security het beurte gemaak om Riley in die rookgevulde slaapkamer te soek.

Dakteëls bo die slaapkamer is verwyder om van die rook uit die vertrek te laat ontsnap om die soektog te vergemaklik.

Volgens Melvin Ramlal, streekbevelvoerder van die brandweer in Pinetown, was die brand tot die sitkamer beperk.

Diedericks reken hy het omtrent 20 minute lank noodhulp op Riley toegepas. Paramedici het by hom oorgeneem toe hulle opdaag.

Hy het hulle nog 10 minute gehelp, maar kon toe hy nie meer nie.

Volgens André Visser van ER24 het Wade net geringe skrape en snye opgedoen.

Sy ma was gistermiddag in ’n stabiele toestand in die Hillcrest- private hospitaal met geringe brandwonde.

Blignaut se man, Brian, was gister op pad terug van Soedan.
 
«Terug