Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Wakker buurvrou laat 3 rowers aan pen ry

Deur: Riata Nel 2012-12-19 06:57
Drie huisrowers wat ’n man in ’n rolstoel oorval en aangerand het, is gister deur die Vanderbijlpark-polisie op heterdaad betrap en gearresteer.

Dít danksy ’n wakker buurvrou wat gesien het hoe die rowers oor ’n heining spring.

Die buurvrou het die Vanderbijlpark-polisie en die Vaalrand-blitspatrollie dadelik gebel.

“Die drie het oor ’n muur in Wellstraat gespring en deur ’n oop agterdeur toegang tot die huis verkry. Die rowers het ’n 21-jarige man en sy 48-jarige oom, wat in ’n rolstoel is, oorval en aangerand.

“Hulle het selfone en kontant geëis,” het ao. Kinnie Steyn van die Vanderbijlpark-polisie gesê.

“Die verdagtes wou nog vlug, maar is deur die polisie aangekeer en gearresteer.”

Die polisie het beslag gelê op ’n 9 mm-pistool en ’n rewolwer.

«Terug