Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Weerwet: Minister laat dit herskryf

Deur: Elise Tempelhoff 2012-08-06 20:59
Die omstrede voorgestelde Wetsontwerp van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarin landsburgers verbied word om mekaar oor uiterste weersomstandighede te waarsku, gaan herskryf word.

Albi Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het gister bevestig Edna Molewa, die minister, het die wetsontwerp na die departement teruggestuur.

Die wetsontwerp het vroeër vanjaar ’n storm ontketen oor voorstelle dat landsburgers tronkstraf opgelê of met miljoene beboet kan word as hulle mekaar sonder die skriftelike toestemming van die SAWD teen uiterste weersomstandighede of lugbesoedeling waarsku.

Modise het gesê die wetsontwerp is in Mei verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer, maar dit het weinig reaksie van die burgerlike samelewing ontlok.

Die departement het glo net kommentaar van twee belanghebbendes ontvang.

Dit het tot gevolg gehad dat verskeie voorstelle vir wysigings in die parlement geopper is.

“As die parlement dié wysigings aangebring het, sou dit heeltemal verskil het van die wetsontwerp wat aan landsburgers vir kommentaar voorgelê is,” het Modise gesê.

Molewa het daarom, “in die belang van die maak van goeie wette”, besluit om dit na die departement terug te stuur.

Volgens Modise sal die voorgestelde wysigings aan die oorspronklike teks nou aangebring word, waarna dit weer in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer sal word.
«Terug