Dít sal die teken wees van die einde van die wêreld, het mnr. Johannes Coetzee gistermiddag baie beslis gesê nadat hy sy laaste pamflette uitgedeel het.
Coetzee is lid van ’n groep mense wat glo die eindoordeel begin vandag.
Volgens Coetzee het mense oor die wêreld heen die laaste paar jaar die boodskap van D-dag versprei.
Hy het Suid-Afrika self platgery. Oor die wêreld heen tot in Boksburg aan die Oos-Rand is groot reklameborde opgerig wat die “oordeelsdag” aankondig.
“By sonsondergang in Japan en Nieu-Seeland gaan daar ’n aardbewing wees soos wat niemand nog ooit gesien het nie. Soos wat die son oor elke nasie sak, sal die rippel-effek van die aardbewing daardie nasie tref,” het Coetzee gesê.
“Die aarde gaan lyk soos Japan nou lyk. God se uitverkore volk sal weggevoer word.
“Dié wat nie weggevoer word nie, sal in hierdie chaos wat op aarde gaan heers moet bly tot 21 Oktober, wanneer die wêreld met vuur verteer sal word.”
Op ’n vraag van wat gebeur as die wêreld nie vandag eindig nie, het Coetzee geantwoord dat Noag nie vrae gevra het toe hy aangesê is om in die ark in te gaan omdat dit oor sewe dae sou begin reën nie. Noag het in die ark in gegaan.
“Dit gaan gebeur. Die einde van die genadetydperk is hier.”