Me. Maggie Sotyu, nuwe adjunkminister van polisie, het dié uitlating gister by die parlement gemaak nadat die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (SSGV) se omvattende navorsing oor die omvang en aard van geweldsmisdaad bekend gemaak is.
Sotyu het verwys na ’n “wit persoon of boer wat ’n swart plaaswerker agter sy bakkie sleep en met ’n boete van R10 000 wegkom”.
“Maar ’n swart man wat ’n wit boer vermoor, kry lewenslange tronkstraf. Dít is rassistiese politiek.”
Volgens haar moet die strafregstelsel getransformeer word, “want mense van dieselfde land word nie gelyk behandel nie”.
“Dis hoog tyd dat ons howe besef dit is nou die nuwe Suid-Afrika.”
Sotyu het met die media gepraat nadat die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie en die sekretariaat van polisie die SSGV se navorsing uitmekaar getrek het.
Die bevinding dat Suid-Afrika, wat op grond van sy jaarlikse moordsyfer een van die vyf gewelddadigste lande ter wêreld is, in ’n subkultuur van geweld vasgevang is, het veral onder skoot gekom.
Die sekretariaat het aangevoer Suid-Afrika se geweldmisdaad is “nie uitsonderlik nie” en dat verskeie ander lande ’n soortgelyke of selfs hoër vlak het.
Me. Jennifer Irish-Qhobosheane, sekretaris, en LP’s het die SSGV se navorsing, waarvoor die regering R3,5 miljoen betaal het, as onbevredigend, teleurstellend en onvolledig afgemaak.
Na hul mening bied die navorsing geen nuwe insigte of verklaring vir hoekom misdaad in Suid-Afrika so uitermatig gewelddadig is nie.
Volgens Irish-Qhobosheane het die departement ernstige besware oor die navorsing wat in 2007 in opdrag van mnr. Charles Nqakula, destydse minister van veiligheid en sekuriteit, onderneem is. “Dis nuttig, maar bied niks nuuts nie. Nie eens die aanbevelings is kreatief nie.”
Me. Sindi Chikunga, ANC-LP en komiteevoorsitter, het na die Demokratiese Republiek van die Kongo verwys wat nou ná
jare van oorlogvoering veilig genoeg is dat mense valuta op straat kan ruil.
“Daar is ’n oorvloed wapens en Kinshasa is brandarm, maar hul misdaad is nie naastenby so gewelddadig nie. Wat is so uniek aan Suid-Afrika se situasie?
“Ek kry nie ’n antwoord in jul verslag nie,” het sy aan me. Adèle Kirsten, direkteur van die SSGV, gesê.
Mnr. Pieter Groenewald (VF+) het na grusame plaasmoorde verwys “waar bejaardes met strykysters gemartel word en die aanvallers vlug sonder om enigiets te vat”.
“Waarom dié onmenslikheid? Die antwoorde ontbreek.”
Volgens Kirsten gee ’n verskeidenheid ingewikkelde redes aanleiding tot uitermatige geweld.
“Julle sal nêrens net een (eenvoudige) antwoord kry nie – nie by ons nie en ook nie by internasionale navorsers nie.”
Volgens mnr. David Bruce, ook van die SSGV, is alternatiewe navorsing soos die sielkundige profilering van geweldenaars nodig om te bepaal wat hulle motiveer om so gewelddadig op te tree.
Suid-Afrika se situasie is wel uniek weens die trekarbeiderstelsel wat deur die apartheidsregering aan die Witwatersrand afgedwing is en waardeur derduisende families vernietig is.
Verder is die gaping tussen ryk en arm hier groter as in enige ander land ter wêreld.
Volg Beeld op Twitter. Klik hier.