Dis al etlike jare lank duidelik dat die National Union of Mineworkers (NUM) sy greep op die arbeidsmag in platinummyne verloor.
Die diep, onderliggende rede daarvoor is dat die profiel van die NUM se leierskorps op middelvlak – provinsiale leiers en takleiers en selfs die leiers op maatskappyvlak en werkplekvlak – heeltemal verander het van sê maar tien jaar gelede.
Die groot gros van die plaaslike en streekleiers het vroeër bestaan uit ondergrondse werkers in die onderste poskategorieë – rotsbooroperateurs, skraperoperateurs, algemene werkers en paneeloperateurs.
Dis handwerkers wat dikwels ongeskoold en selfs ongeletterd is.
Om eerlik te wees, die meeste van hulle kan nie eens Engels of Afrikaans verstaan nie – Fanakalo, wat veronderstel is om lankal uitgedien te wees, is dikwels vandag steeds die enigste doeltreffende manier om met hulle te kommunikeer.
Vandag is verreweg die meeste vakbondopsieners in die NUM wat nog ondergronds werk, uit die meer geskoolde beroepsgroepe wat vroeër in die jare van werkreservering vir wit werkers gereserveer was – poste soos ambagslui, tegnici, hyserbestuurders en opgeleide myners met skietsertifikate.
Tydens die vorige staking by Impala Platinum wat van Februarie tot April geduur het, het dit aan die lig gekom dat daar geen enkele rotsbooroperateur tussen die etlike honderde vakbondopsieners in die maatskappy is nie.
Feit is dat rotsbooroperateurs, wat die hardste en veeleisendste werk in die myn doen, al hoe ouer word.
’n Studie wat in 2006 by Implats gedoen is na weerstand teen nuwe boortoerusting, het gewys dat 40% van die rotsbooroperateurs in dié enorme maatskappy ouer is as 45 jaar en nog 40% ouer is as 35 jaar.
Jongmense sien nie kans vir die veeleisende werk nie. Iemand wat dit doen, moet fiks en sterk wees.
Oor dekades heen het dit uitgekristalliseer as werk vir mans wat van bepaalde streke af kom in landelike gebiede soos Pondoland in die Oos-Kaap en hoogliggende dele van Lesotho.
Hulle is dus feitlik uitsluitlik trekarbeiders wat deur die Teba-werwingsagentskap gewerf word. Teba het vroeër aan die Kamer van Mynwese behoort, maar die NUM het in die 1990’s beheer van Teba oorgeneem.
Prakties het dit meegebring dat ’n mynwerker wat deur Teba gewerf is en byvoorbeeld deur die NUM uit die vakbond geskors word, maklik ook sy werk verloor, wat weer die skeidslyn tussen vakbond en werkgewer laat vervaag het.
Die lone van rotsbooroperateurs by Implats is ná die staking vroeër vanjaar verhoog van rondom R7 500 per maand tot R9 000 per maand.
Die staking by Implats het dié groep meer as R1 miljard aan omset gekos en het wye publisiteit geniet. By Lonmin kry die rotsbooroperateurs R4 000 per maand.
Daar is geen twyfel dat Lonmin se rotsbooroperateurs presies weet hoeveel hul ampsgenote by Implats ná die staking verdien nie en dat dit hulle aan die dink gesit het nie.
Die manier waarop Frans Baleni, hoofsekretaris van die NUM, in die pos beland het, speel ook ’n groot rol.
Baleni was jare lank die NUM se hooforganiseerder in Eskom en hoof van die NUM-opleidingskool vir vakbondopsieners in Yeoville, Johannesburg.
Die adjunkhoofsekretaris was Archie Palane, ’n dinamiese leier wat deur sy hele loopbaan ’n vakbondamptenaar was. Hy was egter nooit ’n mynwerker nie.
Die belangrikste deel van Palane se werkportefeulje was organiseerder van die land se platinummyne. En hy was uiters gewild onder werkers in dié sektor.
’n Jaar voordat Gwede Mantashe, destyds hoofsekretaris van die NUM, die vakbond sou verlaat, het hy en Palane ’n twis gehad.
Daar was talle loondispute wat nie geskik kon word nie en gedreig het om op stakings uit te loop. Palane het die proses gevolg en die stakings laat voortgaan – Mantashe wou dit nie hê nie.
Mantashe het op ’n mini-kongres ’n mosie laat goedkeur dat die vakbond se hoofsekretaris ’n mynwerker moet wees en kort daarna aangekondig dat hy uittree.
Palane, wat ’n goeie kans gehad om Mantashe op te volg, is gediskwalifiseer ondanks stem-makery deur die vakbond se tak in Noordwes, waar die platinummyne is, dat Palane toegelaat moet word om te staan.
Baleni is onbestrede verkies.
Dit het enorme ongelukkigheid in die vakbond se strukture op platinummyne veroorsaak.
Uiteraard weier Baleni om dit te erken, maar daar is vandag nog – ses jaar later – ’n weersin in hom.
Die weersin is so erg dat hy nog nooit werkers van ’n platinummyn toegespreek het nie.