Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Zapiro-tekening beledig die president, sê ANC

Deur: Maryna Lamprecht 2012-07-07 00:01
 Die besluit om ’n Zapiro-spotprent waarin pres. Jacob Zuma as ’n penis met ’n stortkop op sy kop uitgebeeld word in die Mail & Guardian (M&G) te publiseer, is gister deur die redakteur verdedig.

Die spotprent deur Jonathan Shapiro is gister gepubliseer met die woorde: “Hy is so ’n groot dick soos ons gedink het!”

Nic Dawes, redakteur, het erken dit is dalk nie ’n “goeie” spotprent nie, maar gesê dit op sigself is nie genoeg rede om dit nié te publiseer nie. “Ek dink dit was ’n poging om taamlik onbeskofte kommentaar oor die president te lewer. Dit is ’n heel ander beeld as The Spear en is bedoel om reaksie uit te lok.”

Hy het gesê die gesprek oor die skildery The Spear het op ’n intimiderende noot geëindig en dit is waarop die spotprent sinspeel.

Die M&G het nog nooit ’n spotprent van Zapiro gesensor nie en sal dit nie sommer oorweeg nie, het Dawes gesê.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die spotprent is “blatant rassisties” en seksisties en dui op Zapiro se obsessie met manlike geslagsdele.

“Om van iemand ’n bespotting te maak in ’n (sensitiewe) samelewing soos ons s’n is nie vryheid van uitdrukking nie, dit is opsetlik.”

Die ANC eis dat Zapiro “pres. Zuma, sy familie, die ANC en die hele Suid-Afrika” om verskoning vra en dat die M&G die tekening van sy webwerf verwyder.

“Ons sal nie rus nie totdat Zapiro, die M&G en ander soos hulle ten volle besef hul sogenaamde joernalistieke kreatiwiteit is skadelik vir eenheid en kohesie in die land.”

Volgens Mantashe oorweeg die ANC regstappe, maar vrees dit sal Zapiro nog publisiteit gee.

“Die vraag is, wil ’n mens die M&G en Zapiro die aandag gee waarna hulle so desperaat smag? Hulle is bedorwe kinders wat aandag soek.”

Shapiro het gister gesê as die ANC reken die spotprent moet geïgnoreer word, “is hulle welkom om dit te ignoreer”. Volgens hom is ander menings “noodsaaklik vir werklike verandering”. Hy het verwys na die kohesie-beraad vandeesweek in Soweto en gesê dit is ’n poging om eendersheid te bevorder pleks van verskeidenheid.
«Terug