Die werk van verskeie Suid-Afrikaanse beeldhouers is nou in Nederland te sien. Gordon Froud, een van die kunstenaars, skryf oor The Rainbow Nation.
The Rainbow Nation, ’n versameling kontemporêre beeldhouwerke van Suid-Afrikaanse kunstenaars, is verlede maand in Den Haag op drie afsonderlike geleenthede geopen.
Die eerste van die drie is geopen deur die Nederlandse koningin, Beatrix.
Tydens dié opening in die Lange Voorhout het Beatrix ’n beeld van Angus Taylor onthul.
Op 9 Junie is die tweede opening gehou in die Museum Beelden aan Zee in Scheveningen, sowat tien minute buite Den Haag.
Die derde opening was by die ANWB (die Nederlandse ekwiwalent van die Automobiel-Assosiasie).
Die uitstallings, wat sowat 65 kunswerke insluit, val saam met die onthulling van ’n bronsbeeld van oudpres. Nelson Mandela later dié maand.
Dit word opgerig voor die nuwe internasionale hof in Den Haag. Die Nederlandse beeldhouer Arie Schippers maak dié 3,5 m hoë beeld van Mandela.
Die kurator van die omvangryke Suid-Afrikaanse uitstallings is Annelies Brans-Van der Straeten, ’n voormalige galery-eienaar wat in Amsterdam en Kaapstad woon.
Kuratoriaal het Brans-Van der Straeten haar geplaas tussen Anton van Wouw (gebore in 1862) en Mary Sibande (gebore in 1982).
Die uitstalling in die museum dui op die ontwikkeling ná Van Wouw deur die werk van die formaliste soos Edoardo Villa en die invloed van swart kunstenaars soos Sydney Khumalo, Dumeli Feni en Jackson Hlongwane tot by die sosio-politieke kommentaar van kunstenaars soos Jane Alexander, David Brown en Willie Bester.
Werke wat op maatskaplike kwessies fokus, sluit dié in van Nandipha Mntabo, Nicholas Hlobo, Wim Botha en Andries Botha.
Kontemporêre abstraksie, soos gesien in die werke van Paul Edmunds en die figuratiewe werk van Claudette Schreuders en Taylor, is ook ingesluit.
In Museum Beelden aan Zee word Sibande se tamaai installasiewerk vertoon en net buite die museum my plastiekhangerwerk saam met bronsbeelde van Deborah Bell.
Op die Lange Voorhout word ’n olifant van Andries Botha, geweef van buitebande, uitgestal saam met my kleurryke Quantum Taxi, gemaak van klerehangers.
Ander kunstenaars van wie werk hier uitgestal word, is Barend de Wet, Willem Boshoff, William Kentridge, Kendell Geers, Kevin Brand, Taylor, Pitika Ntuli en Villa. Vir die ANWB-terrein is van my werk, asook dié van Wilma Cruise, David Brown en Pitika Ntuli gekies.
Die uitstallings duur tot 9 September.
Gordon Froud is ’n Johannesburgse kunstenaar en senior lektor in kuns aan die Universiteit van Johannesburg.