Die benoemdes vir vanjaar se ATKV-Woordveertjies is pas bekend gemaak. Met dié prys word uitsonderlike prestasies rakende die Afrikaanse woord vereer.
Vir die ATKV-prosaprys is benoem Sonja Loots vir Sirkusboere (Tafelberg); Deon Meyer vir 7 dae (Human & Rousseau) en Dan Sleigh vir sy Wals met Matilda (Tafelberg).
Die benoemdes vir die poësieprys is T.T. Cloete vir Onversadig (Tafelberg); Joan Hambidge vir Visums by verstek (Human & Rousseau) en Ronelda S. Kamfer vir Grond/Santekraam (Kwela Boeke).
Om die prys vir die beste liefdesroman ding mee Douwleen Bredenhann se Bloedwater (Human & Rousseau); Irma Joubert se Kronkelpad (Tafelberg) en Sophia Kapp se Huis van die wind (Lapa-Uitgewers).
In die kategorie vir romanses is die benoemdes Marie-Louise Cronjé vir Gelyke vennote (Lapa-Uitgewers); Amelia Strydom vir Donker sjokolade vir dokter Daniel (Malan Media) en Amelia Strydom vir Droomdokter (Hartklop).
Chris Karsten is in die spanningslektuur-kategorie benoem vir Abel se lot (Human & Rousseau); Isa Konrad vir Die soenoffer (Lapa-Uitgewers) en Deon Meyer vir 7 dae (Human & Rousseau).
Die benoemdes vir die dramateksprys is Willem Anker vir Samsa- masjien; Cecilia du Toit vir Granaat en Bauke Snyman vir Pop.
Die beoordelaars vir die ATKV-prosaprys is Cecile Cilliers, Thys Human en Riana Scheepers.
Vir die poësieprys is die beoordelaars Marius Crous, Karen de Wet en Danie Marais.
In die spanningslektuur-kategorie is die beoordelaars Sam Cooper, Marlize de Jongh en Linda Zöllner; vir die liefdesroman-kategorie is dit Renée Conradie, Danila Liebenberg en Ilse Salzwedel; en vir die romanses Margarethie Bredenkamp, Petro Prins en Kobie van Aswegen.
Die beoordelaars vir die Woordwys-prys is Anne-Marie Beukes, Leon de Stadler en Ernst Kotzé en vir die dramateks is dit Saartjie Botha, Henry Mylne en Peet van Rensburg.
Die wenners van die ATKV-Woordveertjies word op Vrydag 14 September op Nooitgedacht net buite Stellenbosch aangekondig.