Hy het die projek in 1704 begin, maar dit het nie geslaag nie. Die skuur het in 1792 afgebrand en die moerbeibome wat moes kos verskaf aan die sywurms is ook lank reeds daarmee heen, behalwe een van dié wat Van der Stel op sy landgoed Vergelegen geplant het.
Die straat het ’n hartseer geskiedenis: Op een hoek was die oorspronklike slawelosie, nou ’n Iziko-museum. Slawekinders is in die Groote Kerk gedoop, maar hulle moes in die syfabriek werk en in die middel van die straat dui ’n gedenkplaat aan waar slawe gekoop en verkoop is.
Vandag maak Spinstraat steeds deel uit van die historiese hart van Kaapstad. Dit grens aan Kerkplein waar Jan Hendrik Hofmeyr, in 1920 deur Anton van Wouw in brons uitgebeeld, waghou oor Gavin Younge en Wilma Cruise se granietblokke wat hulde bring aan die verknegtes.
Vernuwing is aan die orde van die dag, veral by Spinstraat 6, ’n argitektoniese juweel wat in 1902 deur Sir Herbert Baker vir die South African Association ontwerp is. Dit huisves Idasa se Kaapstadse Sentrum vir Demokrasie, Lobby Books en ’n restaurant.
’n Banier buite die ingang kondig aan dat daar geleenthede is vir eet, drink, gesels, lees en dink, maar dit berei nie die besoeker voor vir die besondere kunservaring wat binne wag nie.
Die gebou is pragtig gerestoureer en aangepas vir die nuwe doeleindes. Pilare vorm ’n skeiding tussen die boekwinkel en restaurant en die kunswerke is noukeurig deur die restaurateur Robert Mulders gekies en gehang. Puik werke deur Lien Botha, Joe Dolby, Ndikhumbule Nqinambi, Julia Teale en Clementina van der Walt (om net enkeles te noem) word te koop aangebied.
Die vernaamste kunskenmerk is In the Balance deur Brendhan Dickerson en Petra Keinhorst, een van die opdragwerke wat in 2009 deur die Visual Arts Network of South Africa vir Idasa gereël is. ’n Mens moet opkyk want die bewegende brons- en staal-beeldhouwerk hang soos ’n kroonkandelaar aan die plafon. Die tema, asook die figure wat oor ’n skeiding kommunikeer, spreek van regverdigheid, verteenwoordiging en toerekenbaarheid. Visueel sluit dit aan by die simmetrie van die gewelfde ruimte.
Ed Young se Arch – emeritus Aartsbiskop Tutu – swaai letterlik aan ’n kristalkandelaar in Idasa se Dakar-kamer. Die vreugde op sy gesig dui aan dat hy dit terdeë geniet.
Die beeldjie herinner gepas aan die rol wat Arch gespeel het in die demokratiese proses en die bydrae wat hy steeds lewer om die regering aan sy verantwoordelikhede te herinner.
’n Muurskildery met die woorde “Be patient we only have a few things to fix” maak deel uit van die kunswerk en sal van tyd tot tyd verander.
Young skep tans ’n werk vir die vooraansig wat dié skrif aan die muur sal weerspieël en wat hopelik mense sal lok om die gebou te verken en te geniet.