’n Ander opsie is om na Die See te luister – ’n musiekgroep van Pretoria wat pas benoem is vir twee Samas.
“Dit het ’n rukkie geneem om die regte naam vir die band te kry,” sê Dylan Graham, die groep se baskitaarspeler. “Ons het gedink aan goed soos Die Laaste Perlemoen, maar ek het skielik besef Die See vat alles saam wat ons wil sê. Dit was eintlik moeilik om te glo dat niemand al dié naam gekies het nie.”
Baie van hul liedjies op die benoemde gelyknamige CD soos Pretoriabaai, Al die perlemoen en Desember het verwysings na die see.
“Dit gaan juis oor daardie gevoel van ouens wat in Pretoria bly – en dus ver van die see af is. Dis daardie gevoel van terugdink aan lekker seevakansies.”
As ’n mens na hul musiek luister, is dit presies so ’n nostalgiese ondertoon wat bly dreun. Amper soos die geruis van branders, al kan jy nie die see van jou strandhuis se stoep af sien nie. Een van die Sama-benoemings is vir beste alternatiewe groep. “Toe ons begin musiek maak het, was dit nie die idee om spesifiek alternatiewe musiek te maak nie, maar ’n mens kan dit seker ook nie iets anders noem nie.
“Ons musiek is sterk atmosfeer-georiënteerd. Dit gaan oor ’n plek in jou kop.”
Henry Ferreira sê hy skryf van kleins af al “kinderstories en gediggies”. Hy het op hoërskool geleer kitaar speel en “?’n paar akkoorde begin bymekaar- gooi”.
Graham sê hulle skryf soms liedjies saam, maar die hele dinamika van die viertal saam (Justin Smit, baskitaar, en Dean Basson, tromme) is te danke daaraan dat elkeen toegelaat word om te doen waarmee hy die beste is.
“Ek is baie bly dat ek in so ’n band kan wees.”
Graham en Ferreira sê die idee was nooit om ’n groep te begin en ’n klomp geld te maak nie.
“Ek het Henry een keer gehoor speel en ek was mal daaroor. Hy het later gehou van wat ek met sy musiek op die kitaar doen. Justin het ons gehelp om die CD te vervaardig en ons het Dean by ’n braai ontmoet.”
Dit was van die begin af vir hulle belangrik om musiek te skep waarvan hulle hou. “Eerlike musiek,” noem Ferreira dit.
Soms is daar op hul CD ook plekke waar hulle teen grensdrade leun, soos die snit Die kluisenaar, wat basies op een kitaarakkoord geskryf is.
Die feit dat ander mense ook na hul musiek kan luister en hulle daarmee kan vereenselwig, is “ ’n klop op die skouer”. Die Sama is vir hulle ’n groot verdere hupstoot en erkenning.
Ferreira sê hy was onlangs baie verbaas om Pretoriabaai oor die radio te hoor speel. “Toe dit begin, het ek gedink haai, ek ken mos daardie song!”
Hy sê waar hy daardie liedjie jaar gelede depressed in sy woonstel geskryf het, het hy nooit kon droom dat dit eendag oor die radio gespeel sou word nie.
Die tweede benoeming is vir die verpakking van die CD. Graham erken dit het hulle nogal ’n aardige bedraggie gekos, want hulle doen alles onafhanklik. “Maar dit was vir my van die begin af belangrik om ’n omslag te hê wat van gehalte spreek. Dit is eintlik ’n kunswerk op sy eie.” Hy sou volgende wou sien dat hul musiek op ’n vinielplaat gehoor kan word. Nee, sê hy, viniel het nie uitgesterf nie. Oorsee laat baie kunstenaars nog hul musiek op viniel druk.
Maar niemand se musiek weerklink in die gange van ’n skulp se binnekant nie?…