Share

Die volle betekenis van aktrise en vrou

Die aktrise Wilna Snyman het middel September haar 75ste verjaar­dag gevier en is onlangs in Johannesburg vereer vir haar bydrae tot die toneelkuns.

Haar jare lange kollega en vriend Louis van Niekerk het by daardie geleentheid by ­Foxwood House, ná nog ’n treffende weergawe van haar Dear Mrs Steyn, aan dié besonderse vrou hulde gebring.

Aktrise vir televisie en rolprente, maar bowenal op die verhoog. Daar was ook kabaret (vir verhoog en televisie), en die radio. Komedie, tragedie. En Wilna Snyman is landwyd bekend vir haar Madel in 7de Laan.

Dit is veral haar verhoogwerk van die laat-1960’s vir meestal Truk wat haar as besonderse aktrise gevestig het. Mettertyd sou sy ook landwyd bekend wees vir haar glinsterende verhoogwerk.

Sy was die ma in Siener in die suburbs, Elizabeth I in Maria Stuart, haar debuut in die Breytie in Pretoria teenoor Cobus Rossouw in Oom Wanja. Só kan jy voortgaan: Was die boere toe tevrede?,

Dans van die reier, Drie susters, Mattewis en Meraai, Anastasia, Die lewe is ’n maskerbal, Grenshotel, Oude doos en ’n Speeltoneel. Jy kan lank voortborduur en almal bring herinneringe: Kersietuin, Pase, Lug vol helder wolke, ’n Seder val in Waterkloof, Germanicus, Die heks.

En een van haar grootste pre­sta­sies: Makiet in Adam Small se Kanna, hy kô hystoe (vir die derde keer) met die inwydingseisoen in 1981 van die Staatsteater in Pretoria.
Geskiedkundig sekerlik, want vir die eerste keer ’n uitsluitlik bruin rolbesetting en Vivian Solomons in die naamrol.
Behalwe Wilna Snyman.
Sy is nie sommer aanvaar deur die bruin spelers nie. In so ’n mate dat Lulu Strachan ná ’n eerste deurloop gesê het: “Dja, vir ’n blanke doen jy darem nie te sleg nie.” Die vuurvreter

James Winckler later: “Ek wil net vir jou sê ek is jammer, ek is een van die ouens wat teen jou ge-canvass het.”

Openingsaand staan ek in ’n hoek – bang vir nóg ’n vuurvreter-reaksie – en die spelers in twee toue in die gang af.

Soos Wilna tussen hulle deurloop na haar rolstoel, vat hulle saggies aan haar: “Makiet! Makiet! Makiet!”

Dan was daar die briljante vertolking van Emily Hobhouse in Dear Mrs Steyn en die ontroerende Sweet Sorrows.

Wilna is 19 keer beloon met pryse vir haar werk in die teater, oor die radio en op televisie; en ’n erepenning vir verhoogkuns is in 1984 aan haar toegeken deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die Foxwood-verering is dus no. 20 op haar kerfstok.

In die later jare het sy as motiveringspreker die teenslae van die lewe as inspirasie gebruik om te inspireer en te motiveer.

Sy is nie so rigtingvas agter ’n stuurwiel nie, maar sy sal nie ophou reis om te doen wat sy moet doen nie. Sy verdwaal nog soms op pad van Hermanus na Villiersdorp, maar as dit móét, dan moet dit! G’n reën, wind, donker bergpas sal haar keer nie.

Moeder. Eggenote. Ouma. Benewens die onbetwisbare titel as aktrise, is dit die ander titels wat Wilna met liefde aanneem.

As ma van haar drie pragtige kinders. Haar trots. Haar verlange as hulle nie naby is nie, maar die blink in die oog as sy met liefde oor hulle praat. As buitestander luister jy in bewondering en jy’s amper jaloers.

Enigeen wat insae gehad het in haar intieme outobiografie, Memoires, weet van haar onvoorwaardelike liefde en waardering vir haar man, Jaap Smit.

Haar hartseer en toewyding aan hom met sy wrede siekte is net nóg ’n voorbeeld van haar innerlike dryfkrag. Daarmee konfronteer en oorkom sy alle probleme. Sonder Jaap se bystand, erken sy, sou sy haar aktrise-loopbaan nie ten volle kon uitleef nie.

Dan is daar Ouma Wilna. Hier, dink ek, is sy soos alle oumas: Verlore vir als en almal om haar as sy by haar kleinkinders is. Dis die een ding wat haar kan laat twyfel of sy ’n rol moet aanvaar of nie, of ’n afspraak moet nakom.

Dis die een ding wat haar stuitig op die vloer kan laat rondkruip en verspot koer en kloek: die kennelike liefde van ’n ouma… Andersins gewoonlik ’n waardige 75-jarige vrou.

Vrou, in die volle betekenis. Net so toegewyd as moeder en grootmoeder as aan die vertolkings van Makiet, Madel of koningin Elizabeth I. ’n Aanhaling uit haar Memoires: “Mammie says our house is very small, but there is always room in it for ­those we love.”

Sy noem my vriend en ver­troue­ling en praat van ons as ou karperde. Seker nie verkeerd nie, want saam het ons menige wa deur die drif gesleep.

Om Mar­lene Dietrich se woorde, toe sy van Burt Bacharat as háár komponis gepraat het, effens te verdraai: Ek wens ek kon sê sy is net mý vriend, maar sy is ’n getroue, lojale, ondersteunende vriendin teenoor elkeen vir wie sy die hand van vriendskap gegee het, of wat na haar vriendskap en warmte uitgereik het.


Snyman as ma Makiet en Vivian Solomons in die naamrol in Kanna, hy kô hystoe deur Adam Small by die inwyding van die Staatsteater in Pretoria in 1981.


Snyman as Eleanor en Louis van ­Niekerk as Henry in Leeu in die winter in die Staatsteater, ­Pretoria, in 1982.


Wilna Snyman in Corlia Fourie se Moeders en dogters vir Kruik-Toneel in Kaapstad in November 1985.


Snyman in haar eerste rol vir Truk-Toneel, as Jeljena teenoor Cobus Rossouw in ­Tsjechof se Oom Wanja in 1967.


Snyman as Maria Radostova in ’n Stryd met engele in die Staatsteater in Pretoria in 1982. Foto: NAN Melville
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 118 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 247 votes
Vote
Rand - Dollar
19.20
-0.2%
Rand - Pound
23.88
-0.2%
Rand - Euro
20.43
-0.2%
Rand - Aus dollar
12.31
-0.0%
Rand - Yen
0.12
-0.4%
Platinum
952.10
+0.2%
Palladium
1,026.50
-0.3%
Gold
2,381.27
+0.1%
Silver
28.33
+0.3%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,190
0.0%
All Share
73,271
0.0%
Resource 10
63,297
0.0%
Industrial 25
98,419
0.0%
Financial 15
15,480
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE