Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Elza van den Heever sing Strauss, Wagner

Deur: Thys Odendaal 2012-06-17 21:23
Elza van den Heever, die Suid-Afrikaanse sopraan wat sedert haar debuut in San Francisco in 2007 internasionaal skitterend presteer, is op Saterdag 8 Julie in Kaapstad vir ’n galakonsert saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO).

Die sopraan wat kritici in Europa gaande het – die resensent Emmanuel Andrieu het ná een van haar optredes geskryf “haar stem suggereer ’n timbre van eindelose moontlikhede” – sing in die Kunstekaap-operahuis Richard Strauss se Vier letzte Lieder en ná pouse twee dramatiese opera-arias.

Die arias kom albei uit operas van Wagner waarin Van den Heever in Europese operahuise met lof gedebuteer het – Elisabeth se Dich, teure Halle, grüss’ ich wieder uit die tweede bedryf van Tannhaüser en Elsa se Einsam in Trüben Tagen uit die eerste bedryf van Lohengrin.

Die Duits gebore dirigent Bernhard Gueller, wat reeds ’n lang verbintenis met Kaapstad het en ’n klompie jare gelede Richard Strauss se Elektra met die Suid-Afrikaanse soprane Marita Napier en Carla Pohl in ’n konsertweergawe gedirigeer het, is voor die KFO.

Gueller was ook die afgelope twee jaar die hoof-gasdirigent van die Johannesburg Philharmonic.

Benewens haar opera-optredes het Van den Heever as konsertsolis topprestasies gelewer.

Sy was ’n solis in Mahler se Simfonie no. 8, die sogenaamde Simfonie van ’n duisend in die Symphony Hall met die San Francisco Simfonie-orkes-en- koor onder leiding van Michael Tilson Thomas.

Die regstreekse CD-opname is met ’n Grammy bekroon.

Vanjaar het sy reeds in Hamburg, Frankfurt, Chicago en Bordeaux gesing en het tot dusver lof ingeoes as solis in die Strauss-siklus wat sy in Kaapstad sing, Verdi se Messa da requiem en sy maak ook binnekort haar debuut met die Berlynse Filharmoniese Orkes gedirigeer deur Herbert Blomstedt in die Missa solemnis van Beethoven.

Kaartjies vir die galakonsert kan by Computicket gekoop word op die webwerf www.computicket.com of skakel 086 191 58000.

Navrae: 021 410 9809.
 
«Terug