Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Fugard se ‘Iris’ bied nie net gif nie; ook heling

Deur: Willem de Vries 2012-07-03 02:10
Die 38ste Nasionale Kunstefees in Grahamstad het met hoogtepunte begin. Athol Fugard se drama The Blue Iris het met die openingsaand van die fees sy wêreldpremière gehad. En met reg.

Is hierdie toneelstuk Fugard se nuwe verkenning van die ou verhaal van Sisufos, wat die groot klip teen die berg bly oprol, al rol dit elke keer weer af?

Die gehoor tref die boer Robert Hannay (genoeglik vertolk deur Graham Weir) en die huiswerker Rieta Plaasman (Lee-Ann van Rooi is eweneens op haar stukke) aan waar hulle ’n plaashuis aan die herbou is nadat ’n storm dit verwoes het.

Robert het sy vrou (die uitstekende Claire Berlein) in die storm verloor, maar haar gees kom nie tot rus nie.

Fugard wys hoe groot droogte op mense en op hul beskouings van mekaar inwerk.

Die blou iris van die titel het pragtige blomme, maar genoeg gif om ’n bees te laat omkap. Gif en heling (na aanleiding van die Griekse begrip pharmakon) loop hand aan hand in hierdie ontroerende teaterervaring.

Janice Honeyman se regie, tesame met Birrie le Roux se kostuums en Mannie Manim se ligte op ­Dicky Longhurst se stel, spel alles saam een ding: teater van gehalte.

Die geskiedenis van koloniale wreedheid kom in performance-werk van Brett Bailey se geselskap Third World Bunfight aan die bod.

Besoekers aan Bailey se Exhibit A kry elk ’n nommer en een vir een word hulle uitgeroep, waarna jy ’n gebou betree.

In die halfdonkerte stap jy tussen dooie bokke en wildtrofees deur. Dis die voorskemer tot donkerder dinge: vergrype in die destydse Suidwes-Afrika en die Belgiese Kongo word gewys.

Suid-Afrika se verlede van miskenning is ’n verlengstuk hiervan, wys Bailey. In elkeen van die vertrekke is ’n kaartjie op ’n staander met ’n flou liggie by die betrokke “uitstalling”.

In netjiese letters is die afgryslike optrede deur “beskawers” saamgevat.

Bailey “dwing” die kyker in die rol van ’n besigtiger van ’n geskiedenis van ellendes.

Mense in Grahamstad – soos in Europese lande waar hierdie werk oor koloniale geskiedenisse al vertoon is – kry hoogs gestileerde werke wat dokumentasie van gruwels en die estetiese aanbieding daarvan in die konteks van ’n uitstalling problematiseer.

Die kyker word ’n passiewe soort ramptoeris; as Suid-Afrikaner is jy ’n onderdeel van sistemiese skuld.

Jy kom opnuut onder die indruk van die dinamiek van koloniale verontmensliking wat op komplekse maniere tot in die hede deurwerk.

Performance wat die tyd laat stilstaan en kykers aangenaam verras, kom vanjaar van Nantes, Frankryk.

Afternoon of a Foehn (’n Föhn is ’n soort wind) van die Non Nova-geselskap is ’n fantastiese stuk verbeelding: Op ’n ronde verhoog knip ’n vrou, geklee in ’n swart py, plegtig aan plastieksakke, vou dele dan om en heg stukke met kleeflint.

Om die verhoog is groot waaiers aangebring. Sy laat die plastiek in ’n hopie op die verhoog en tree buite die kring.

Die ineengedoke plastiek word aangeblaas deur waaiers totdat dit uitbol en danser word.

Eers die een sak, dan ’n volgende en dan nóg, betree ’n gechoreografeerde dans waarin elemente van klassieke ballet in die sakpoppe se bewegings herkenbaar is.

Dit is beeldhou met wind, marionettekuns en ’n sprokie waarin plastieksakke lewe kry.


«Terug