Die dramaturg Pieter Fourie word vanaand op die Innibos-kunstefees in Nelspruit vir sy lewenswerk vereer. Anna-Retha Bouwer het hom met ’n paar vrae gepeper.
Jou drama Mooi Maria is verlede jaar onder die regie van Albert Maritz op Aardklop opgevoer en kry ook nou weer lewe op die planke op Innibos. Het jy dié produksie gesien en was jy gelukkig met wat Maritz met jou werk gedoen het? Nog nie. Maar ek is opgewonde. Maritz het Faan se trein en Faan se stasie ná drie dekades nie net afgestof nie, maar ook herbelig en verruim.
Elke taal het sy klassieke werke. Maritz herinner ons voortdurend daaraan en toon op dié manier agting vir die breë publiek se instinktiewe langtermynoordeel.
Klassieke werk staan los van tyd. Hy het dit ook reeds bewys met werke van onder andere Chris Barnard, P.G. du Plessis en Pieter-Dirk Uys.
Daar is nog ’n klein skatkis van stukke wat wag op herlewing-inisiatiewe. Maritz se soort teaterfilosofie is hul redding. Mag die kunstefeeste hom hierin bly ondersteun.
’n Taal kan sprankel van vars kreatiwiteit, maar durf nie nalaat om sy klassieke werke te koester nie. Dit is die knaters van sy oorlewing.
Anthea Thompson, wat nou weer in Nelspruit verskyn in die naamrol van Mooi Maria, is geloof en bekroon vir haar vertolking. Wie was na jou mening nog die beste Mooi Maria? Al drie – Sandra Kotze, Trudie Taljaard en Anthea Thompson – het onderskeidelik die hoogste lof en bekroning vir hul vertolking van Maria ontvang. Weliswaar oor meer as drie dekades.
Elkeen het ’n unieke uitsonderlikheid aan Maria gegee. Dis onmoontlik om te kies tussen briljant, briljant en briljant!
LitNet skryf jy het as ’n jong seun met die teater kennis gemaak deur die rondreisende toneelgeselskap van André Huguenet. Jy het ook later jou eie toneelgeselskap gehad. Dink jy dit sou werk as ons vandag terugkeer na rondreisende teater? Nee, nooit weer nie. Dit het van die 1920’s tot die 1960’s die room van ons vertolkende kunstenaars in die land gekniehalter, geteister, ontgogel en na liggaam en gees geknak.
Die staat moet sy gat in rat kry en die kunste aanvaarbaar finansier.
Weier hy steeds, moet die kunstegemeenskap sy gat in rat kry en ’n vreeslose vakunie met tande, lang naels en ballas op die been bring.
Bestaande vakunies bewys keer op keer die mag van oorreding lê in ons land op die straat en in stakings.
Jy was jou lewe lank ’n skrywer. Hou jy dop wat gebeur op die gebied van digitale media en veral e-boeke? Dink jy dit hou ’n bedreiging vir skrywers in? Ek is ’n volslae digioot: agter die klip in hierdie dinge. Nogtans weet ek instinktief dat dit nie ’n bedreiging vir dramaturge sal wees nie.
Jy was nog nooit bang om met die owerhede te bots indien daar ’n geskil was oor wat jy geglo het reg is nie. Dink jy mense het deesdae te versigtig geword? Ja. Politieke korrektheid is ’n laakbare vorm van selfsensuur en verraad teen jou beroep.
Faan se trein het ook ’n “reïnkarnasie” beleef toe dit in 2005 op die KKNK opgevoer is. Wat, dink jy, is die resep vir sulke langlewende teater? Langlewende teater – klassieke teater in wording – verrys uit deurgetrapte teaterdrumpels ná elke speelvak.
Dit is ’n reaksie op verskeie dinge: tydlose onderwerp en tema, geloofwaardige karakters en ’n goeie, verstaanbare storie.
Onthou, skryf is maar ’n veredelde vorm van skinder. Wie word nou nie aangegryp deur ’n goeie skinderstorie nie!
Dit is egter nie die volle waarheid nie. Wat dan van Waiting for Godot, Exit the King en talle ander voorbeelde in die wêreldliteratuur?
Die Innibos-fees gaan jou vanaand met ’n spesiale prys vir jou lewenswerk bekroon. Wat beteken dit vir jou? Inaggenome die kern van my oeuvre voel ek ek word vereer as nasaat van ’n Boer en nie spesifiek as Afrikaner nie.
Daarop is ek trots en dit maak my opreg dankbaar. My lewensfilosofie word uitgespel in Die joiner: “Staan eers jou man as mens en dan as Afrikaner.”
Dit was 51 jaar lank die fondament van my dramaturgie en teaterbestuur.
Is daar baie stories wat jy voel nog in dramas uit jou pen vertel moet word? Faan se sterwenswoorde was: “Ek voertsek nou. Bokveld toe!”
Ek werk reeds geruime tyd – so nou en dan – aan Faan in die Bokveld. As die eindresultaat nie as gedwonge voorkom nie, sal ek hom loslaat vir die verhoog.
Jy was ook feesdirekteur van die KKNK. Is jy gelukkig met die posisionering van kunstefeeste in die land? In die kringloop van die Super Ses – Innibos, Aardklop, Vryfees, KKNK, Woordfees en Suidooster – is eie identiteite nou in hul finale fase van uitkristallisering.
Wonderlik! Dit is ’n waarborg vir ’n fees se organiese groei en voortbestaan.
Die aanvanklike groot bedreigings – taaltokkelosse en patriotpapegaaie – is duidelik finaal hokgeslaan.
Die kunstegemeenskap kan nou in vrye blydskap Afrikaans se geestesgoedere koester, verdiep en verruim.