Kunstekaap (Teater), Kaapstad
In die afgelope dekade of wat is daar hoog opgegee van verhoogaanbiedings as “grensverskuiwend” of “innoverend” in jaarlikse bekronings in die uitvoerende kunste, om dan later by herondersoek weg van kunstefees-ovasies as ’n stuk middelmatige ploeterpoging versmaai te word.
Die Soweto-komponis Neo Muyanga kategoriseer sy jongste werk, The Flower of Shembe, as ’n “operette”. Dit is so banaal dat dit nie nodig is om verder daaroor uit te wei nie.
(Die operette-genre bring al langer as ’n eeu niks nuut na die verhoog nie.) Dit is buitendien onnodig om so ’n kreatiewe oefening in ’n hokkie te plaas met onbeduidende modegier-beskrywings soos “fisieke teater” of “luisterliedjie”.
Muyanga as komponis en skrywer openbaar in Shembe ’n vrugbare verbeelding wat die soort “messias-verhaal” tooi in allerlei fassinerende visuele gedaantes, boeiende karakters wat in veelseggende choreografiese beplannings, binne ’n onopgesmukte sprokie-dekorstel en skerpsinnige beligting hulle deur sy musiek en instrumentasie ritualisties ontbloot.
Die musiek is verfrissend nuut.
Talryke kombinasies in die perkussie-seksie (links, ver agterop die verhoog) en met die instrumente in die klassieke kamer-ensemble (regs agter teenoor hulle opgestel) vestig ’n palet van klankrykheid in voortdurend wisselende ritmiese patrone.
Die onverskrokke momentum wat hy in die voortdurend wisselende musikale verskeidenheid verkry, is die grondslag vir die fassinerende taferele wat afspeel in die dreunsang, “Sprechtgesang”, liedmelodieë, koorstukke, danspatrone en die aansteeklike polsslag in die verhoudings tussen die vreemde half-mens-half-god-karakters.
Almal kan sing, dans en toneelspeel, wat lei tot ’n multi-funksionele, aaneengeskakelde tablo.
Faniswa Yisa is ’n soort troos-moeder, Anharit Shembe, vir haar klein Addis, wat as die onwaarskynlike uitverkore “messias” haar invloed begin uitoefen. Albei skitter in hul klinkklare verhoogkuns.
Luvuyo Mabutho is die onkeerbare maar soms deerniswekkende Ledima met ’n lyf en gesig wat selfs haar geslag verberg.
Die Angels is twee briljante dansers van Jazzart, Thabisa Dinga en veral Sean Oelf, wriemelend buigsaam in sensuele deursigtige wit kostuums.
Kabi Thulo is die verteller, maar in die bewegingskurwes geïntegreer, hoewel sy Engelse diksie en uitspraak aansienlik moet verbeter tot die vlak wat die professie vereis.
Die verhoogstuk is in Afrika-tradisie versonke, maar strek veel wyer as die kontinent en het ook ’n bepaalde Europees-klassieke musikale geur, onlosmaaklik ineenverstrengel in klankbeskrywings.
Hier is ’n eiesoortige verhoogwerk, ’n besonderse prestasie in kreatiewe vindingrykheid wat ’n mens sommer ’n paar keer sou wou beleef om die volheid daarvan te geniet.
- Tot môre