Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Ontvou soos kosbare antieke kleed

Deur: Deborah Steinmair 2012-07-31 21:51
Daar was ’n tyd
(Groenewald)
Foxwood-teater, Johannesburg

Jan Groenewald is alleen op die verhoog van die Foxwood-teater, maar hy bevolk dit met diverse karakters na wie hy in sy vertellings verwys, vir wie hy van tyd tot tyd “channel”: iets in die houding, iets in die stem, die skuinstegraad van die kop, en voor jou oë verander hy van geslag, ouderdom, persoonlikheid.

Teater is immers kulkuns, die vrywillige opheffing van ongeloof.

Die verteller is Josef Hofmeyr, ’n 80-jarige man wat met ’n kierie opstap en oor sy lewe begin gesels. Hy blaai deur sy ma se dagboeke en gaan haal die storie ver.

Dis die verhaal van die Hofmeyrs, bywoners; van sy pa, Harry, wat gedrink het en ’n hensopper in die Anglo-Boereoorlog was. Van die jong Josef se liefde vir Anna van Gewelkrans met die blou oë en kop wat Johannesburg toe staan.

Soms verskyn Anna en haar ma en broer Andries op die skerm bokant Josef se skouer, asof sy geheuebank vir ons oopgaan.

Daar is ook taferele van bewegende veld uit ’n kapkar, wolke, berge, huise.

Anna word (in die beeldmateriaal) deur Brümilda van Rensburg vertolk en haar ma, Magdalena, deur Isadora Verwey.

Dit voel of daar ’n skare op die verhoog is. Mens is heeltyd pynlik bewus van die aanwesigheid van die afwesige.

Dis ’n kragtoer. Al die elemente van teater is teenwoordig in dié minimalistiese produksie.

Mens word weer daaraan herinner dat teater essensieel stories is, oor menslike hartstog, konflik, hunkering, versugting, valsheid en verydeling.

Die produksie ontvou ragfyn soos ’n kosbare antieke kleed in ’n flou sonstraal wat deur ’n soldervenster val.

’n Mens is deurentyd bewus van die verganklikheid van alles, die vervlietendheid, soos wolke wat bokant ’n landskap verstrooi word deur die wind, soos appelkose wat reeds voos is aan die tak.

Dis nie net die storie wat oopvou nie, dis die geheimenis en onvolmaaktheid van die lewe self, daardie klein oogknip op die gelaat van die ewigheid. Dis swaar van haas onverwoordbare gewaarwordinge en insigte.

Die stuk is universeel, tydloos en totaal hipnoties. Groenewald, wat ook die stuk geskryf het, word die karakters, word die storie, die oomblik.

Die ou man se mymerings is nie sonder hikplekke nie, maar die struikel oor woorde is altyd in karakter, soos iemand wat rondtas na herinneringe wat net-net buite sy bereik is.

Aan die woord is ’n fyn waarnemer en meester-storieverteller met ’n ruim, geamuseerde gees en ’n fyn ontwikkelde sesde sintuig.

Dis teater wat jou op die puntjie van jou stoel hou.

Navrae: 011 486 0935.

- 8 Augustus om 20:00
 
«Terug