Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Rol van Marais is ’n voorreg én pligsbesef

Deur: Laetitia Pople 2012-08-17 23:06
Dawid Minnaar vertolk die rol van Eugène Marais in die nuwe Katinka Heyns-fliek, Die wonderwerker. Laetitia Pople het met Minnaar oor sy rol gesels.

Het jy voor Die wonderwerker ’n belangstelling in Marais gehad? Kan jy onthou wat jou eerste kennismaking met hom was?

Ek kan nie met sekerheid sê hoe lank Marais al deel is van my bewussyn nie. Al wat ek weet, is dat dit al ’n geruime tyd is.

Ek moes al op skool in aanraking met sy poësie gekom het. Gedigte soos “Winternag”, “Die dans van die reën” en “Mabalêl”het toe reeds ’n blywende indruk op my gemaak.

Wat dit presies is omtrent die verse wat ’n mens so raak, is moeilik om te verwoord. Dit het dalk te doen met die ritme, die suiwer eenvoud van konstruksie.

Wat was die boustene van die karakter van Eugène M. Marais? Jy is daarvoor bekend dat jy rolle deeglik instudeer.

Ek het ’n paar jaar gelede Marais gespeel in Nicky Rebelo se Prophet of the Waterberg. Die karakter was dus nie vir my ’n totale vreemdeling nie.

Ek het weer sy hele oeuvre deurgewerk soos saamgevat in die twee volumes van sy versamelde werke wat onder redaksie van Leon Rousseau verskyn het.

Daarna het ek weer Die groot verlange (vir die derde keer) gelees, ook deur Rousseau.

Dit bly die omvattendste oorsig van Marais se lewe en ek dink nie ek sal ooit moeg word daarvoor nie.

Dan is daar ook Eugène Marais and the Darwin Syndrome / Die dowwe spoor van Eugène Marais, ook van Rousseau.

Daar was ’n interessante artikel “Marais: Naturalist and Pioneer Scientist” en ’n artikel op Litnet met die titel “The Construction of Eugène Marais as an Arikaner Hero”.

Ek het ook ’n psigiater gaan sien om ’n bietjie te gesels oor hipnose en die verskillende tegnieke in die toepassing daarvan en ek en Katinka het eendag twee doktersvriende van haar ontmoet om uit te vind oor die uitwerking van morfien, en hoe onttrekking fisiek en emosioneel manifesteer.

Die naweek voordat ons begin skiet het, het ek en Katinka die Preller-huis by Pelindaba besoek asook die rondawel waar Marais sy laaste dae deurgebring het. En toe is ons veld toe, na die plek waar hy homself geskiet het.

Wat was die grootste uitdaging om Marais te speel?

Elke rol, hoe groot of hoe klein ook al, het maar sy uitdagings.

Wat iemand soos Eugène Marais betref, bly die grootste uitdaging, en grootste wens, om met eerlikheid, integriteit en in alle nederigheid reg te laat geskied aan hierdie merkwaardige man se nalatenskap; om ’n geloofwaardige, multidimensionele karakter te skep; om onder sy vel in te klim; hopelik iets van sy siel bloot te lê.

Om die geleentheid gegun te word om iemand soos Marais te speel is ’n reuse-voorreg, maar ook ’n yslike verantwoordelikheid. Al wat ek kan sê is, ek was van albei deeglik bewus.

Hoe word sy verslawing aan morfien in die prent gehanteer?

Ek weet nie of ek te veel wil weggee oor hierdie aspek van die prent nie, maar dit vorm noodgedwonge een van die sentrale, deurlopende temas in die verhaal.

Dit is egter nie vooropliggend, soos byvoorbeeld die geval was in The Guest nie.

Die kyker is wel deeglik bewus van die rol wat morfien in sy lewe speel, sy afhanklikheid daarvan en ons sien ook wat gebeur as hy dit nie tot sy beskikking het nie.

Myns insiens word sy verslawing in die fliek op ’n nugter en eerlike wyse gehanteer.

Gaan ons ’n deel van Marais sien waarvan ons dalk nie bewus is nie?

Ek hoop van harte so. Marais het op ’n kol genoem dat die tyd wat hy in die Waterberg deurgebring het, die gelukkigste van sy lewe was. Dit is dan ook die tyd in sy lewe waarop die prent fokus.

Sy seun het ook eenkeer vertel hoe lekker sy pa kon lag as iets vir hom snaaks was, letterlik tot die trane loop, en watter uitstekende sin vir humor hy gehad het. Hy kon ondernemend gesels en het gehou van poetse bak.

Dit was van die begin af vir my belangrik om, waar moontlik, ’n kant van sy karakter te wys wat die populêre beeld van die melancholiese dwelmverslaafde lynreg sou teenwerk en in ’n mate weerspreek.

Hoe het jy en Katinka Heyns saamgewerk? Vertel ’n bietjie van jul rapport?

Wat kan ek sê? Waar begin mens? Ons het ’n leeftyd gelede vir die eerste keer saamgewerk aan Fiela se kind, en toe het ek lank daarna saam met haar gewerk aan die twee reekse van Amalia.

Die wonderwerker was egter ’n perd van ’n ander kleur. Dit was, is, en sal altyd iets baie spesiaals wees.

Teen die tyd ken sy my baie goed met al my nukke en grille, en ek kan jou verseker, dié is legio.

Ek sou graag wou glo dat daar oor tyd ’n wedersydse vertroue en begrip tussen ons ontwikkel het. Dit maak nie die werk noodwendig mak­liker nie, maar dit maak dit net soveel meer opwindend.

En Anneke Weidemann? Hoe was dit om saam met haar te werk?

Dit was ’n absolute plesier en voorreg om saam met haar te werk. Sy is een van daardie seldsame wesens in wie daar ’n naas volkome balans bestaan tussen instink en intellek – ’n waardevolle eienskap vir enige akteur of aktrise.

Verder is daar ’n sensitiwiteit omtrent haar wat uiters delikaat en gesofistikeerd is. Sy is baie spesiaal, sowel as mens en as kunstenaar.

Hoe verskil die voorbereiding van ’n karakter vir rolprent en vir die verhoog?


Dit hang maar af van die aard, styl en inhoud van die teks. Maar wesenlik is daar nie regtig ’n verskil nie, sou ek sê.

Die groot verskil tussen die twee dissiplines is natuurlik dat jy in rolprente gewoonlik altyd uit kontinuïteit werk, met ander woorde jy moet ’n deeglike oorsigtelike begrip hê van die karakter se emosionele en fisieke ontwikkeling.

Jy het as jongste kind op ’n plaas in Namibië grootgeword. Was die afsondering ’n teelaarde vir jou verbeelding?

Ek sê altyd ek het as ’n kind die luukse van afsondering gehad. Die Engelse woord “solitude” omvat dit perfek.

’n Mens moet nooit die invloed van landskap op die psige onderskat nie.

Die Namibiese landskap is onlosmaaklik deel van my wese, ek dra dit saam met my soos ’n kleinood; dit voed en inspireer my konstant.

Die wonderwerker word op 7 September landwyd uitgereik.
 
«Terug