Beeld

Skertsende kyk na stryd met die skaal

2012-08-20 23:07
Terwyl feesgangers op vanjaar se Clover Aardklop-kunstefees weer buite aan boereworsrolle en oliebolle gaan smul, is vet, diëte en vroue se ewige obsessie met die ideale voorkoms die gewigtige onderwerp waarmee die aktrise en sangeres LieSl Marx haar gaan besig hou in die komedie Die vet-faktor.

Marx sê in ’n mediaverklaring dat sy wéét hoe dit voel om met die skaal te baklei.

Selfs ’n platemaatskappy het hom al onttrek aan ’n projek omdat sy volgens hulle nie soos “die norm” lyk nie.

Haar solovertoning op Aardklop is die resultaat van al dié bakleiery. Marion Holm is die regisseur en Hanli Rolfes het die teks geskryf.

Marx staan die skoene vol van die karakters Franzette, Klara, Rolanda en Heidi – die vier dogters van Lea en Franz Koster.

Die gesinsdinamika en hul ma se verhouding met kos het op elkeen van die dogters ’n ander merk gelaat.

Aan die einde is die boodskap dat die pad na die skaal uiteindelik moet lei na self-aanvaarding.

Marx sing ook in die produksie en Devereaux van der Hoven is die musiekregisseur.

Bekende liedjies soos Unchained Melody, Constant Craving, Something’s Gotta Hold on Me, Candyman, Who Wants to Live Forever en Big Girl You Are Beautiful word deel gemaak van die storie.

Die vet-faktor is op die volgende datums en tye in die Laerskool Mooirivier: 2 Oktober: 16:30, 3 Oktober: 14:00, 4 Oktober:13:00, 5 Oktober: 16:30, 6 Oktober: 20:00

Bespreek by Computicket.
 
«Terug