Telkom het saamgespan met kunsstudente van die Universiteit van Pretoria (UP) om die uitstalling Connecting Concepts aan te bied in Art Space in dié telekommunikasie-reus se hoofkantoor in Pretoria.
Telkom het ’n uitnodiging gerig aan tweede- en derdejaarstudente in dié universiteit se departement visuele kunste om werk te maak wat telekommunikasie vier.
Telkom het die doeke vir die kunswerke en uitstalruimte vir die versameling werke voorsien. Telkom het ook aangedui dat hy van die werk wil aankoop vir sy permanente versameling.
Die kunstenaars wie se werk uitgestal word, is Libby Battson, Ewald Groenewald, Lavonne Müller, Kaitlyn Coss, Minien Hattingh, Gustav Kruger, Leandré le Roux, Shenaz Mohammed, Nicolas Makamu, Sibusiso Masters, Courtney McHolm, Simone Oranje, Sarah Pretorius, Nicole Reyneke, Michelle Senekal, Barry van der Westhuizen, Nicole van Reenen, Elsabé Viljoen en Warwick Williams.
Volgens Manelisa Mabuso, hoof van Telkom se verbruikersdiens, gee die samewerking met die UP die maatskappy die geleentheid om plaaslike kunstenaars te ondersteun en om ’n verdere belegging te doen in Suid-Afrika se kultuur- en visuele erfenis.
Telkom het sy versameling in 1992 begin en het sedertdien sowat 1 000 werke aangekoop.
Die versameling sluit in tekeninge, skilderye, grafiese werke, beeldhouwerke, tapisserieë, keramiekwerke en foto’s.
Kunstenaars wie se werk in die versameling opgeneem is, sluit in Walter Battiss, Bonnie Ntshalintshali, Willem Boshoff en David Koloane.
- Die uitstalling is tot 20 November per afspraak op Donderdae van 09:00 tot 15:00 en Vrydae van 09:00 tot 14:00 te sien in Telkom se hoofkantoor by Johannes Ramokhoase-straat 152 (vroeër Proesstraat) in Pretoria.
Navrae: 012 311 7260.