Die Van Aardes van Grootoor
Stadsteater, Innibos, NelspruitMet ’n span akteurs wat almal ’n komediemasker met gemak dra, is daar lof toe te swaai vir Albert Maritz se weergawe van Die Van Aardes van Grootoor, die opdragproduksie op vanjaar se Innibos-fees.
Tussen al die sterre wat by die produksie betrokke is, is die een wat die helderste flonker egter Pieter-Dirk Uys se teks.
As ’n mens in ag neem dat die stuk in 1977 geskryf is, toe sensorskêre goed geolie was, is dit verstommend dat dit toe ooit die planke gehaal het.
Meer verstommend egter is hoe relevant die gegewens van dié Boeredrama vandag nog is.
Wie sou ooit indertyd kon dink dat die tema van die Afrikaner se beheptheid met grond vandag so sekuur kon tref?
Eintlik is dit nog meer so in ’n tyd van grondeise waar baie familieplase nou verlate agtergelaat is.
Die satire is steeds onverdun, die woordspelings skatersnaaks en dele van die intrige is nou selfs profeties.
Uys was ongetwyfeld sy tyd vooruit.
Hy het Die Van Aardes geskryf lank voor die opkoms van die Afrikaanse TV-sepies, waarvoor sekskapades, magsug, politieke intriges en familieskandale steeds die stapelvoedsel is.
Al die akteurs kwyt hulle goed van hul taak, maar ’n mens kan sien Marion Holm het jare se ervaring as komiese akteur op die verhoog.
Haar Dolla ontwikkel van skyn-preutse Boerevrou tot “gerestoureerde” matriarg, en dit is haar gesigsuitdrukking en fyn tydsberekening wat die meeste laat giggel.
Anna-Mart van der Merwe se Elana ontwikkel eweneens van onhebbelike sproetgesig in Hitler-dominatrix.
Al die akteurs oorspeel, maar dit pas by dié soort komedie, wat filmies aandoen uit die sepie-aard daarvan. Daar is ook sprake van Shakespeare-parodie.
Maritz het na aan die oorspronklike teks gehou, met hier en daar ’n verskuilde verwysing na meer hedendaagse gegewens in byvoorbeeld die lirieke van Afrikaanse treffers.
Sy hantering van die advertensiebreke tussen die episodes is ’n ekstra genot. Veral ouer mense in die gehoor sal die (veel jonger) gesigte van baie plaaslike akteurs herken.
Dié produksie sal voorwaar jou “genotskrots” kielie.
Nog vandag om 11:00, môre om 15:00 en Saterdag om 15:00.