Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Waar klank en kuns ontmoet

Deur: Johan Myburg 2012-06-29 00:59
Die punt waar musiek en die visuele kunste ontmoet, is die fokus van die uitstalling Sounding Out, wat van Dinsdag tot 18 Julie in die Bag Factory in Fordsburg, Johannesburg, aangebied word.

Tesame met dié uitstalling is Neo Muyanga se verhoogwerk The Flower of Shembe in die Dance Factory in Johannesburg se Newtown. Die stuk is net vir twee aande te sien, op 6 en 7 Julie.

In Sounding Out bring die kurators Kim Gurney en Thato Mogotsi kunstenaars byeen wat musiek of klank as konsep of vergestalting in visuele kuns gebruik.

Benewens Muyunga sluit die lys in Sanell Aggenbach, Brendon Bussy, Lynette Bester, Gordon Froud, Jared Ginsburg, Josh Ginsburg, Nathan Jansen van Vuuren, Angie Mullins en João Orecchia.

In haar werk in Sounding Out maak Mullins gebruik van selfoon-opnames van wêreldwye sosiale protes wat sy omvorm in ’n klankinstallasie.

Sy het saam met Jansen van Vuu­ren ’n werk geskep, Mass Effect, waarin verwys word na massa-histerie.

Orecchia bied ’n klankinstallasie aan waarin hy tegnologies torring aan voorwerpe om “stil verhale” te vertel.

Dis juis die spanning tussen terughou en klank maak wat volgens Gurney soos ’n goue draad deur die uitstalling loop.

“Daar is ’n diepgaande spel met kommunikasie in die uitstalling aanwesig,” sê sy.

“Veral met betrekking tot die manier waarop ’n mens luister en dit wat jy hoor.”

Muynga se Flower het vroeër vanjaar sy debuut in Kaapstad gehad en Thys Odendaal het dit in ’n resensie beskryf as ’n “eiesoortige verhoogwerk, ’n besonderse prestasie in kreatiewe vindingrykheid wat ’n mens sommer ’n paar keer sou wou beleef om die volheid daarvan te geniet”.

Benewens die uitstalling in die Bag Factory en Flower in die Dance Factory is ’n deel van die uitstalling ook op die lug te hoor danksy die samewerking van Invisible Cities ­Pirate Radio (ICR).

Vir die duur van die uitstalling saai ICR op 102.2FM klankwerke uit.

Bussy en Orecchia word in dié radio-eksperiment bygestaan deur Malose Malahlela, Jane Rademeyer, James Sey en James Webb.

Bespreek vir Flower of Shembe (al twee aande om 20:00) by Computicket. Kaartjies kos R150.

Sounding Out is van Maandag tot Vrydag van 09:30 tot 16:30 te sien. Bag Factory is by Mahlatinistraat 10, Fordsburg.
 
«Terug