Die Standard Bank Joy of Jazz-fees word vanjaar van 23 tot 25 Augustus in Johannesburg aangebied.
Dis plaaslike en internasionale jazz-reuse wat vanjaar hul opwagting gaan maak op verhoë in Newtown. Daar is onder andere die Grammy-wenner Jurt Elling, die tromboonspeler Wycliffe Gordon, die Grammy-bekroonde kitaarspeler Earl Klugh en die beroemde Duke Ellington-orkes.
Die lys gaan voort: Clarence Carter en Eddie Palmieri, die Jamaikaanse Monty Alexander en Manu Katche van Frankryk, die Amerikaner Lizz Wright, Manu Dibango van Kameroen en Mory Kante van Guinee.
Maar dit is die Suid-Afrikaners Bakithi Kumalo en Vusi Khumalo wat die aandag trek op die program.
Kumalo, komponis en sanger, het die land in 1990 verlaat en hom in die VSA gaan vestig.
Sy deurbraak in die musiekwêreld het in 1985 gekom toe Paul Simon sy Graceland wou opneem en ’n orkes moes saamstel. ’n Johannesburgse vervaardiger het Kumalo aanbeveel en van daar af het sy loopbaan die nodige hupstoot gekry.
Sedertdien het hy saam met onder andere Cyndi Lauper, Josh Groban, Gloria Estafan en Harry Belafonte opgetree.
In 1997 het Kumalo op die Kaapstadse jazz-fees saam met Regina Carter, Carl Anderson en Donald Harrison opgetree.
Kumalo is op 24 en 25 Augustus in die Bassline.
As komponis en tromspeler het Khumalo eweneens 27 jaar gelede Simon se aandag getrek en meegewerk aan die Grammy-bekroonde Graceland.
Van die musikante met wie hy sedertdien saamgewerk het, sluit in Miriam Makeba, Abdullah Ibrahim, Youssou N’dour, Bob Baldwin en Donald Harrison.
Sy mees onlangse album, Reasons for Seasons, is ’n aanmoediging teen xenofobie, geweld en rassehaat.
Khumalo is op 24 Augustus in die Bassline saam met sy vriend Kumalo.
Verskeie vrouekunstenaars is dié jaar op die Joy of Jazz-program.
Hulle is Cécile Verny van die Ivoorkus, Frankryk en Duitsland; Tineke Postma van Nederland; Shanti Lo van Botswana; die Suid-Afrikaanse Gloria Bosman, Shannon Mowday, Swazi Dlamini, Thandiswa Mazwai en Nthabiseng Mokoena; die Amerikaanse Grace Kelly, Ledisi Anibade Young, Lizz Wright, Maysa Leak en Jane Monheit en die Brit Rosemary Quaye.
Bespreek by Computicket.

Bakithi Kumalo. Foto: Lucky Nxumalo