Beeld SITES/SERVICES >

Ontmoet die beoordelaars

By: Clarissa Grobler 2010-11-12 06:00
Die werklikheidsprogram Dance Your Butt Off wys hoe deelnemers gewig afskud deur gesonde eetgewoontes, oefening en dans te kombineer. Maar wie is dit wat die deelnemers se danspassies moet beoordeel? Clarissa Grobler het met die drie beoordelaars gesels.

Khabonina Qubeka: “Enigiemand kan dans.”
Khabonina Qubeka glo enigiemand kan dans. Dié talentvolle vrou praat uit ervaring – sy besit al ses jaar ’n dans-ateljee wat oop danslesse aanbied vir oud of jonk, selfs mense met gestremdhede. “Dance Your Butt Off doen op TV wat ek by my dansklasse doen. Dit is ’n pragtige platform,” sê sy.

Benewens haar pligte as beoordelaar in dié reeks en die dansskool, is Qubeka ook betrokke in die vermaaklikheidsbedryf en sy stel binnekort ’n album vry.
Sy sê sy wou as kind al optree.

“Op laerskool wou ek altyd in toneelstukke gewees het en het later kleure vir dans en drama gekry.”

Te midde van haar besige program is Qubeka ook nog aan’t studeer vir ’n B.A.-graad deur Unisa.

Intussen, waarvoor soek sy in die deelnemers aan dié program? “Wanneer ek die deelnemers se dansuitvoering beoordeel, kyk ek of hulle selfvertroue het en luister na hul dansmaats. Die performance is vir my die belangrikste. Jy moet kan perform en doen wat met jou lyf werk.

“Ek wil meegesleur word met ’n vertoning en ek dink almal het iets wat kan werk. Party dansers maak byvoorbeeld staat op hul gesiguitdrukkings. Jy moet weet wat vir jou werk en dit gebruik.”

Somizi Mhlongo: Inspirasie van sy ouers.
Somizi Mhlongo sê hy is al verskeie kere genader om beoordelaar in TV-dansprogramme te wees, maar het dit van die hand gewys, “want my hart was nie daarin nie”.

“Met hierdie ene was ek mal oor die konsep vandat ek die Amerikaanse weergawe gesien het. Ek het toe nog nie geweet ek gaan eendag deel daarvan wees nie.
“Dis nie net ’n danswerklikheidsprogram nie, dit is ’n lewensveranderende geleentheid,” beklemtoon hy.

Mhlongo is self ’n danser, sanger, akteur, choreograaf en verhoogbestuurder.

Hy het in ’n kreatiewe omgewing grootgeword. Sy pa, Ndaba, was ’n wêreldbekende komediant en ook choreograaf vir die Broadway-blyspel Sarafina, en sy ma, Mary Twala-Mhlongo, is ’n aktrise.

“Ek het altyd die passie wat my ouers vir showbiz het, bewonder,” sê hy.

“Destyds het dit nie so goed betaal om in die vermaakbedryf te wees soos vandag nie, maar hulle kon ’n gesin onderhou met die bietjie wat hulle gemaak het, en hulle het nooit opgegee nie. Dít het ’n groot invloed op my gehad om ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf te volg.”

Hy het ook sy eie onderneming, Buyani Productions, wat al 10 jaar bestaan.

Dié onderneming het ’n indrukwekkende lys geleenthede op sy kerfstok – van die choreografie van die Mej. SA Tiener-kompetisie tot die Sama- en
Metro FM-prysaande.

Een van Mhlongo se onlangse hoogtepunte was as hoof-choreograaf vir die opening- en eindseremonie van die Wêreldbeker-sokkerreeks.

So van hoogtepunte gepraat: Hy het reeds ’n hele paar tydens Dance Your Butt Off beleef.

“Daar was al baie hoogtepunte in die program, maar een wat vir my uitstaan, is toe ek so opgewonde oor ’n optrede geraak het dat ek van die springmielies wat ons op die beoordelaarsbank gehad het, oral rondgegooi het. Ek het agterna gedink dit was nogal snaaks.”

DJ Sbu: ’n Persoonlike verbintenis.
Net soos Qubeka en Mhlongo, is die beoordelaar DJ Sbu Leope se program propvol.

Dié Metro FM-platejoggie en TV-persoonlikheid het onlangs ’n nuwe T-hemp-reeks begin – Vandal vir mans en Vandy vir vroue.

Hy het ook ’n nuwe album, We Are Ghubuluzingl, op die horison; bestuur sy eie platemaatskappy, TS Records; en ’n bemarkingonderneming.

Hy koester sy besluit om ’n beoordelaar vir Dance Your Butt Off te wees.

“Ek was mal oor die konsep en ek het self gewigprobleme gehad. Maar ek het die bul by die horings gepak en dit reggekry om gewig af te gooi – van 110?kg tot 90 kg.

“Die reeks is dus iets waarmee ek my kan vereenselwig.”

Sbu vertel hy voel dat, omdat hy nie ’n professionele danser of choreograaf is nie, hy die beoordelaar is wat die gewone kyker verteenwoordig.

“Ek kan sien as iemand potensiaal het, goed dans en toegewyd is. Ek het die gawe om talent raak te sien.”

Hy stem ook saam dat ’n program soos Dance Your Butt Off ’n gesonde leefstyl bevorder.

“Baie mense het ’n groot probleem met hul gewig. Dit is belangrik dat ons ’n gesonde leefstyl in Suid-Afrika bevorder.

Dance Your Butt Off doen dit goed deur dit te kombineer met iets waarvan Suid-Afrikaners hou: dans.”


Die Dance Your Butt Off ’-beoordelaars is Somizi Mhlongo, Khabonina Qubeka en DJ Sbu.

Meer oor die program
Dance Your Butt Off is die plaaslike weergawe van die Amerikaanse trefferreeks Dance Your Ass Off. Oorgewig deelnemers dans saam met professio­nele dansers en hul puntetelling word gemeet aan hul dansvertoning én gewigverlies.

Hul danspuntetelling word gekombineer met hul gewigverlies en die deelnemer met die laagste telling word elke week huis toe gestuur.

Die program se aanbieder is die Zone 14-aktrise Relebogile “Lebo” Mabotja.

Dance Your Butt Off word Dinsdae om 18:30 op SABC1 uitgesaai.

More Stories in Vrydag!

«Back