Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Psigiaters in Dewani-verhoor ondersoek

Deur: Maygene de Wee 2012-09-03 21:19
Kaapstad. – Die Britse vervolgingsgesag het gister gesê hy het begin met ’n ondersoek na die sakeverbintenis tussen die twee psigiaters in die uitleweringsverhoor van Shrien Dewani.

Proff. Michael Kopelman en Nigel Eastman het 13 dae voor hulle ’n gesamentlike verklaring oor Dewani se geestestoestand uitgereik het, mededirekteure van ’n forensiese psigiatriese maatskappy geword.

Dié maatskappy, Forensic Psychiatry Chambers LLP, is op 1 Julie 2011 gestig.

Enkele dae later, op 14 Julie 2011, het Kopelman en Eastman die verklaring uitgereik waarin hulle onder meer saamgestem het dat Dewani aan erge depressie en post-traumatiese stressindroom ly.

Hulle het ook aangevoer hy loop ’n risiko om selfmoord te pleeg, dat hy nie kan pleit nie omdat hy nie die hofverrigtinge kan volg nie, en dat hy ook nie sy regsverteenwoordigers die nodige instruksies kan gee nie.

Kopelman, ’n Britse neuro-psigiater, het namens die Suid-Afrikaanse regering in die uitleweringsverhoor van Dewani getuig. Eastman het namens Dewani getuig.

Julie Seddon, ’n woordvoerder van die Britse vervolgingsgesag, het gister uit Londen gesê sy kan nie met sekerheid sê wanneer die ondersoek na die verbintenis tussen die twee afgehandel sal wees nie.

“Wees verseker dat ons wel daarna kyk. Daar behoort al aan die einde van die week antwoorde op van die vrae te wees,” het sy gesê.

Intussen moet Kopelman op 18 September, wanneer Dewani weer in die Westminister-magistraatshof moet verskyn, redes aan regter Howard Riddle verskaf oor hoekom hy Suid-Afrika nie meer in die saak gaan verteenwoordig nie.

Daar is met die laaste hofsitting in Julie aan die hof gesê die sielkundige wat deur Suid-Afrika aangewys is om Dewani te evalueer, het aangedui hy wil dit nie verder doen nie.

Geen redes is verskaf nie. Dewani word daarvan beskuldig dat hy die moord op sy bruid, Anni, in November 2010 in Suid-Afrika beplan het.
 
«Terug