Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Christene in Sirië vervolg; vrees vir toekoms

Deur: Leopold Scholtz 2012-08-06 20:50
Groeiende kommer oor die lot van Siriese Christene slaan die laaste tyd deur in die Europese en Westerse media.

’n Onderhoud wat deur verskeie ander media oorgeneem is, is dié van eerw. Simon Jacob, verteenwoordiger van die Siries-Ortodokse Kerk in Duitsland, met Bild-Zeitung. Hy het gesê: “In Sirië word die Christene vervolg en verdryf.

Daar was reeds wrede teregstellings. Die situasie herinner aan die voortdurende Christen-vervolging in Irak. As Al-Assad omvergewerp word, sal die situasie deur die magsvakuum vir die Christene in Sirië verder versleg.”

Daar is sowat 3,2 miljoen Christene in Sirië (10% van die totaal). Hulle is tot dusver in die praktyk deur die regime van pres. Basjar al-Assad in ’n mate beskerm deurdat hy baie streng teen Islamitiese fundamentaliste opgetree het.

Dus is die steun vir Al-Assad onder Christene relatief groot, eenvoudig omdat hulle vir hul eie toekoms vrees indien die rebelle, wat toenemend deur Islamitiese fundamentaliste oorheers word, die bewind oorneem.

Nietemin berig sowel die New York Times as die BBC dat baie Christene aanvanklik aan die betogings teen die Al-Assad-diktatuur deelgeneem het toe dit nog geweldloos en sekulêr was. Namate die polarisasie toegeneem het, is Christene deur die fundamentaliste onder die rebelle verwerp. Sowat 80 000 Christene is glo reeds uit hul huise verdryf, skryf die New York Times. Baie van hulle het na Turkye of Libanon gevlug.

Die Frankfurter Rundschau skryf in ’n hoofartikel dat aangesien die Christene skaars in die rebellebeweging verteenwoordig word, “moet die Weste daar dringend sy invloed laat geld om hulle en ander minderhede te beskerm – in die burgeroorlog én in die Sirië van ná Al-Assad”.

Die Protestantse dagblad Trouw (Amsterdam) vestig die aandag daarop dat twee Christelike geboue, die Siries-Ortodokse kerk in Homs en die eeue-oue Siries-Katolieke klooster Mar Moesa in Nebek reeds deur bomaanslae verwoes is.

Volker Kauder, parlementêre leier van die Duitse Christen-Demokrate, het aan Bild-Zeitung gesê die situasie van die Siriese Christene is “werklik dramaties”.

“Ons kyk tans hoe ons ten minste die Christene kan help wat na die buurlande gevlug het.”
 
«Terug