Kaapstad. - Hillary Clinton, die VSA se minister van buitelandse sake, is in Suid-Afrika vir tweejaarlikse samesprekings tussen die twee lande.
Brian Denver, die Amerikaanse media-attaché in Pretoria, sê verteenwoordigers van tien van die grootste Amerikaanse maatskappye is saam met Clinton in Suid-Afrika.
“Die besoek, wat gereël is deur die departement van buitelandse sake, vind plaas in samewerking met die Amerikaanse handelskamer,” het Denver gesê.
Maatskappye wat verteenwoordigers gestuur het, is Black & Veatch, Boeing, Chevron, EMD/Caterpillar, FedEx Express, GE, Symbion, Trimble, Wal-Mart en Zanbato.
Suid-Afrika is die grootste Afrika-mark vir Amerikaanse produkte en die VSA is ook ’n belangrike uitvoermark vir Suid-Afrika.
Denver sê die versterking van ekonomiese bande tussen die twee lande kan help om ondernemings in albei lande te versterk, uitvoer?te vermeerder en tot werkskepping lei.