Beeld

Dingo veroorsaak baba se dood

Deur: Reuters 2012-06-12 23:21
Canberra. – “Die baba is dood nadat ’n dingo haar aangeval het.”

Onder “begrawe” staan: “Lyk nie teruggekry nie.”

Só lui die nuwe doodsertifikaat van baba Azaria Chamberlain wat in 1980 in die Australiese wildernis vermis geraak het.

Azaria se ma, Lindy, is in 1982 aan haar moord skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Michael Chamberlain, Azaria se pa, is daaraan skuldig bevind dat hy ’n medepligtige was en het ’n opgeskorte vonnis gekry.

Die nuwe doodsertifikaat wat ná ’n geregtelike doodsondersoek uitgereik is, maak ’n einde aan die 32 jaar oue raaisel.

“Dit was ’n skrikwekkende geveg, by tye bitter, maar nou kan ons heel word en ons dogter se gees tot rus bring,” het Michael aan joernaliste gesê.

Azaria het in Junie 1980 verdwyn uit ’n tent in ’n kampeerplek naby Uluru, voorheen bekend as Ayers Rock.

Haar lyk is nooit gevind nie en haar ouers het volgehou dat sy deur ’n dingo, ’n Australiese wildehond, weggedra is.

“Ons is verlig en verheug dat die saga nou tot ’n einde gekom het,” het Lindy gesê.

Elizabeth Morris, die lykskouer, het bevind dat bewyse van die saak daarop dui dat ’n wildehond(e) verantwoordelik is vir Azaria (9 weke) se dood.

“Ek is regtig jammer vir jul verlies,” het Morris aan die ouers gesê.

’n Eerste geregtelike doodsondersoek in 1980 het die ouers se weergawe gesteun, maar ’n tweede ondersoek in 1982 het aanbeveel dat Lindy en Michael teregstaan weens Azaria se dood.

Die bevindings is in 1987 omgekeer en Lindy is vrygelaat.

’n Derde geregtelike ondersoek het ’n onbesliste uitspraak gelewer.

Die laaste ondersoek het nuwe bewyse aangehoor van talle wildehond-aanvalle op mense, insluitende hoe ’n seun (9) in ­Queensland na só ’n aanval in 2001 dood is.

Die egpaar is sedertdien geskei en het albei weer getrou.
 
«Terug