Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Duitse roeier onttrek oor verregse bande

Deur: Leopold Scholtz 2012-08-07 21:45
Den Haag. – ’n Kwaai openbare rusie het in Duitsland uitgebreek oor die kop van ’n lid van die land se roeispan in die Olimpiese Spele. Sy is Nadja Drygalla, ’n beeldskone 23-jarige blonde vrou wat glo bande het met regse ekstremiste in Duitsland.

Drygalla is die vriendin van Michael Fischer, wat tot onlangs nog deel was van die leierskorps van die Nasionaal-Demokratiese Party van Duitsland (NPD), ’n neo-Nazi-groepering.

Toe dit bekend word, het die leiers van die Duitse Olimpiese span in Londen ’n lang gesprek met Drygalla gevoer. Daarna het sy haar aan die span onttrek en verlede Vrydag teruggekeer na haar tuiste in Rostock.

Gisteroggend het Lorenz Caffier, minister van binnelandse en sportsake van Mecklenburg-Voorpommere, spesiaal huis toe gevlieg om aan die staat se kabinet verslag te doen.

Die Leipziger Volkszeitung berig dat die federale ministerie van binnelandse sake sy voorskrifte vir die Olimpiese Spele wil verander dat dit ’n verbod op ekstremistiese oortuigings bevat.

Atlete moet hulle van vreemdelingehaat – die gemeenskaplike oortuiging by regse ekstremiste – distansieer.

Drygalla het haar sedertdien in die openbaar van regs-ekstremisme gedistansieer. Haar vriend het reeds drie maande gelede uit die NPD bedank, het sy gesê, ’n feit wat Bild-Zeitung by die NPD bevestig gekry het.

Vir Thomas de Maizière, Duitse minister van verdediging, was dit egter een te veel.

Tydens ’n besoek aan die Duitse span in Londen het hy Drygalla se verklaring verwelkom, maar voortgegaan: “Laat ons as samelewing werklik toe dat die vriendekring van sportlui ondersoek word en te kyk wat daar aan die gang is?

Moet ons van hulle vereis dat hulle bekend maak met wie hulle bevriend is, wat hulle dink?”

Waar is die grens, het De Maizière gevra. “Ek glo dat dit hier oorskry is.”

In ’n onderhoud met die nuusagentskap DPA het Drygalla in trane gesê haar verhouding met Fischer is van die begin af deur sy politieke oortuigings onder druk geplaas. Sy self het nooit Fischer se idees gedeel nie. Wat met haar gebeur het, is “onregverdig”.
 
«Terug