Livingstone (Zambië). – “Estie sê haar man sal nie begrawe word as sy nie by die begrafnis is nie. Én sy is onskuldig.”
So het ’n goeie vriend van Estie Pienaar (33) en Nicky Rossouw (58), wat in die Sesheke-tronk in die suide van die land in verband met Marius Pienaar (50) se dood aangehou word, gisteraand op sy hoewe buite Livingstone gesê.
Pienaar is na bewering vermoor en volgens gerugte vir “krokodille gevoer”.
Die man se vrou, wie se naam ook op versoek weerhou word, het hul vriende sedert hul inhegtenisneming sowat twee weke gelede gereeld in die tronk gaan besoek.
Estie en Marius was ten tyde van sy dood in die laaste week van Junie by die Nina’s Fishing Camp in Barotseland, Zambië, nog nie ’n jaar getroud nie. Die egpaar het volgens vriende ook probeer om ’n baba te kry.
Nicky, ’n Namibiër, is die eienaar van Nina’s Fishing Camp.
Volgens die hengelplek se webtuiste is dit tans gesluit weens “ ’n ernstige voorval.”
Die vrou sê Estie is nog in rou oor haar man se dood.
“Toe ons haar die eerste keer gaan besoek, het sy nie geëet nie. Sy het nie gepraat nie. Sy het net voor haar gestaar.”
Estie en Nicky is ná hul inhegtenisneming ’n naweek lank deur die polisie ondervra. Estie wil nog nie daaroor praat nie, maar het vir haar vriendin gesê dit was verskriklik.
Hulle en Malumbwa Nyambe (30), wat as kok by Nina’s Fishing Camp gewerk het, verskyn oormôre in die landdroshof in Sesheke op aanklag van moord.
Die vriend is bekommerd dat die Zambiese polisie nie oor die eerstewêreldse forensiese tegnologie beskik wat nodig is vir so ’n ondersoek nie.
“Hulle steun nog swaar op
old school-speurwerk, wat die moontlikheid van ’n menslike fout nie kan uitsluit nie.”
Hy beweer wat gebeur het, is dat Marius se lyn vasgehaak het toe hy gaan visvang het. Toe hy ingegaan het om dit te gaan losmaak, het die stroom hom geskep en hom stroomaf geneem.
Sy lyk is dae later kilometers verder af in die rivier gevind.
Volgens die vriend het niemand nog die lykskouingsverslag gesien om te weet waaraan Marius dood is nie.
Hy sê hy glo ook glad nie dat hy keelaf gesny is, soos die polisie sê nie.
“As dit by Estie en Nicky kom, het ek net drie woorde: Onskuldig, onskuldig, onskuldig.”
Hy lag die gedagte af dat Estie en Nicky vir Marius vir die krokodille gevoer het.
Hy het aan
Beeld foto’s gewys van waar mense halflyf in die Zambezirivier by Nina’s Fishing Camp sit.
“Nicky ken daardie plek soos die palm van sy hand. Hy weet daar is nie krokodille in daardie water nie. Hoekom sal hy dan iemand vir die krokodille voer?”
Xander Combink, wat as navorser by Ezemvelo KZN Wildlife op St. Lucia werk en sy doktorsgraad in krokodil-ekologie doen, het aan Beeld gesê hy was glad nie verbaas toe hy berigte gelees het dat Marius se lyk nie deur krokodille aangeraak is nie.
“In die wintermaande is krokodille se metabolisme baie vertraag en hulle eet baie min. Hulle bring die meeste van die tyd op die sandbanke deur, nie in die water nie.”