Gambië, wat as die “glimlag op die gesig van Afrika” bekend staan, gaan al sy terdoodveroordeelde gevangenes volgende maand teregstel.
Pres. Yahya Jammeh het dit Maandag op staatstelevisie aangekondig en gesê dis deel van ’n veldtog om misdaad onder dié Wes-Afrika-land se 1,7 miljoen mense “uit te wis”.
Daar was teen Desember verlede jaar 44 terdoodveroordeelde gevangenes, onder wie twee vroue, in Gambiese tronke.
Elf van dié gevangenes is verlede jaar aan hoogverraad skuldig bevind omdat hulle teen Jammeh se bewind van 18 jaar saamgesweer het.
Die meeste van die ander 33 gevangenes is weens dwelmverwante misdade tot die doodstraf gevonnis.
Verskeie menseregte-organisasies, waaronder Amnestie Internasionaal (AI), het Gambië se planne skerp veroordeel.
As Jammeh sy voorneme bekragtig, sal dit die eerste keer in 27 jaar wees dat teregstellings in Gambië uitgevoer word.