Los Angeles. – Daar is geen teken dat iemand betrokke was by die dood van Sage Stallone, die akteur Sylvester Stallone se seun, nie, het ’n lykskouer gesê.
’n Huishoudster en familielid het hom Vrydagmiddag dood in sy huis in Los Angeles aangetref.
Ed Winter, assistent-hooflykskouer van dié stad, het gesê voorskrifmedisynebottels is in die huis gevind, maar hy wou nie sê hoeveel bottels, watter soort medisyne en of dit dalk ’n rol gespeel het nie. Geen selfmoordbriefie is gevind nie.
Winter het gesê ’n lykskouing sal binne die volgende paar dae gehou word en hulle sal ook sy mediese geskiedenis bekyk, maar dit kan nog weke neem voor ’n oorsaak vir die dood bekend is.
Sage Moonblood Stallone (36) was die oudste van Sylvester Stallone se kinders. Sy ma is Sasha Czack, Sylvester se eerste vrou.
Hy was saam met sy pa te sien in Rocky V in 1990 en Daylight in 1996.
Hy was die mede-stigter van ’n maatskappy wat sogenaamde B-flieks (flieks met ’n klein begroting) van die sewentiger- en tagtigerjare bewaar en bemark het.
George Braunstein, Sage se prokureur, het gesê Sage was entoesiasties en positief, van plan om binnekort te trou en het baie aanbiedings gekry om aan flieks te werk.
“Ek dink dit was waarskynlik een of ander soort ongeluk,” het hy gesê.
“Sylvester Stallone is platgeslaan deur sy seun se dood,” het Michelle Bega, sy publisiteitsbeampte, gesê.