Beeld

Griek teister sy SA vrou

Deur: Erika Gibson 2012-08-21 21:34
Sy sit in ’n onmoontlike situasie met haar Griekse man wat haar en hul kinders “as gyselaar hou”.

Al kan sy haarself tans nie eens help nie, hoop sy ander vroue in soortgelyke posisies kan uit haar foute leer.

Dít was die afgelope week die versugting van ’n jong Suid-Afrikaanse ma wat in Griekeland al bykans ’n jaar lank spook om saam met haar twee kleuters uit ’n “vernietigende” huwelik te kom.

Danelene Meyer (29) sê sy sit sonder geld, sonder raad, sonder ondersteuning en oorgelaat aan die emosionele teistering van haar man, Andreas Dermatis.

Sy vrees vir haar eie lewe en dié van haar kinders van onderskeidelik twee en vier jaar oud nadat haar man reeds herhaaldelik gedreig het om moord te pleeg.

Hy het selfs al terwyl hy onder die invloed van drank was met die oudste seun na die dak van hul woonstelgebou gestorm.

“Ek het nie ’n ander keuse as om by hom te bly nie, want ek het geen heenkome of geld nie. Ek mag nie werk nie en moet hom vra vir geld. Huishoudelike geweld is aan die orde van die dag.

“Ek en my kinders is moeg daarvoor om vasgevang te wees in dié hel van ’n lewe,” het sy die afgelope week per e-pos gesê.

Meyer is ’n Suid-Afrikaanse burger met verblyfreg in Griekeland. Haar man is Grieks en hul twee kinders het Suid-Afrikaanse en Griekse burgerskap.

Hy het egter die kinders se paspoorte en weier dat hulle die land verlaat – al is dit vir ’n kuier by hul grootouers in Bethlehem in die Oos-Vrystaat.

Sy het al male sonder tal vergeefs by die Griekse polisie gesmeek om hulp en beskerming, maar vermoed dit tel teen haar dat sy ’n buitelander is.

Die polisiemanne wil boonop geld hê voordat hulle reageer. Haar man het gesê hy het die polisie in sy sak en dat sy verniet dáár gaan kla.

Sy het die Suid-Afrikaanse ambassade in Athene al gevra om hulp, maar met weinig effek. Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het nie op skriftelike navrae van Beeld gereageer nie.

Sy het vroeër vanjaar alleen Suid-Afrika toe gekom en van hier af ’n egskeiding aanhangig gemaak.

Dié dokumente moet op haar man bestel word, maar Meyer kry nie eens daarvoor samewerking nie.

“Ek sluit myself elke aand in my kamer toe saam met die kinders, want my man kom elke aand besope by die huis.”

Sy eis volle beheer en toesig oor haar kinders in die egskeiding, maar haar man het tot nou toe geweier.

Sy het die Suid-Afrikaanse ambassade gevra om haar te help om die dagvaarding op hom te bestel sodat die saak in September kan voortgaan.

Meyer, wat ’n oud-Kovsie is, het haar man op ’n passasierskip ontmoet en hulle is kort daarna getroud.

“Nadat ons tweede kind gebore is, het die huwelik begin verbrokkel en nou is dit ondraaglik.”

Sy gebruik antidepressante om staande te bly.

“Ek is moedeloos en raadop, want ek staan alleen in ’n vreemde land sonder dat ek iewers kan hulp vra.”


Andreas Dermatis

 
«Terug