Beeld

Harry baljaar kaal met vroue

Deur: Leopold Scholtz 2012-08-22 22:05
Prins Harry het die Britse koninklike familie weer eens in groot verleentheid gebring toe die Amerikaanse webwerf TMZ foto’s van die naakte prins saam met naakte en halfnaakte vroue geplaas het.

Britse media het skoon uitasem oor die saak berig.

Harry (28) was met vakansie in Las Vegas. Verlede Vrydagaand het hy blykbaar ’n groep jong vroue by ’n partytjie in die hotel ontmoet, waartydens hulle met klere en al in die swembad gespring het.

Video-opnames wys hoe gretig Harry na ’n aantal van die vroue in piepklein bikini’s kyk.

Ná die partytjie het die prins glo ’n paar van die vroue na sy luukse suite genooi, waar Harry en ’n aantal van die vroue van hul klere ontslae geraak het.

Toe het dinge al hoe wilder geword en van die aanwesiges het – bewerige – foto’s geneem. In een is Harry reg van voor afgeneem terwyl hy sy geslagsdele met sy hande bedek en van agter deur ’n bostuklose vrou omhels word.

In ’n ander foto druk Harry sy lyf van agter teen ’n naakte vrou vas. Geeneen van die vroue se gesigte is sigbaar nie.

’n Woordvoerder van die prins het bevestig die foto’s is eg.

Dai Davies, voormalige hoof van die Londense polisie se afdeling wat die koninklike familie beskerm, het aan The Daily Telegraph gesê die prins is soms ’n “nagmerrie”, maar omdat hy “so ’n pragtige mens” is, word hy gou vergewe.

“Hy is ’n jong man met baie testosteroon, maar daar is ’n ewewig en soms glip die ewewig.”
 
«Terug