Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Hawking verloor $100 ná nuus oor deeltjie

2012-07-06 23:30
Al word jy as een van die slimste mense op aarde beskou, kan jy nie altyd reg wees nie.

Die wêreldberoemde fisikus Stephen Hawking het Woensdag $100 armer geword nadat hy ’n weddenskap oor die bestaan van die Higgs-boson verloor het.

Die Europese organisasie vir kernnavorsing (Cern) het Woensdag aangekondig ’n nuwe subatomiese deeltjie, wat heel waarskynlik die ontwykende Higgs-boson is waarna wetenskaplikes al dekades lank soek, is eindelik ontdek.

Hawking het 12 jaar gelede ’n weddenskap met die bekroonde fisikus Gordon Kane van die Universiteit van Michigan aangegaan dat ’n Higgs-agtige deeltjie nooit gevind sou word nie.

“Dit is ’n baie belangrike resultaat en behoort Peter Higgs (die fisikus wat die bestaan van die Higgs-boson meer as 40 jaar terug voorgestel het) die Nobelprys te besorg,” het Hawking, direkteur van navorsing aan die Universiteit van Cambridge se sentrum vir teoretiese kosmologie, aan BBC News gesê.

“Maar dit is jammer, want die groot vooruitgange in fisika kom gewoonlik uit eksperimente wat juis onverwagse resultate oplewer.”

Dít is hoekom hy Kane gewed het die Higgs-deeltjie sal nooit gevind word nie. “Lyk my ek het pas $100 verloor,” het Hawking met ’n breë glimlag gesê.

Kane, mede-outeur van ’n gids oor die fisika van die teoretiese Higgs-boson, het volgens nydailynews.com self later begin glo die deeltjie bestaan nie.

Hy het ses jaar gelede ’n tjek vir $100 aan Hawking gestuur. Kane sal dus nou sy geld terugkry en nog $100 ryker word.

Kane was volgens slate.com kort voor die aankondiging Woensdag heel in sy noppies.

“Ek sal Stephen self laat besluit wanneer hy wil opdok, maar ek glo die data sal hom oortuig.”

«Terug