Den Haag. – Die Obama-administrasie se beleid om beweerde Al-Kaïda-terroriste in Pakistan, Jemen, Afganistan, Somalië en elders deur onbemande vliegtuie uit te wis, kan oorlogsmisdade wees.
So het prof. Christof Heyns, hoogleraar in die regte aan die Universiteit van Pretoria en spesiale Verenigde Nasies (VN)-rapporteur oor buiteregtelike, summiere en arbitrêre teregstellings op ’n konferensie van die VN se menseregtekommissie in Genève, Switserland, gesê.
Die uitskakel van beweerde terroriste deurdat onbemande vliegtuie wat uit Amerika beheer word missiele op sulke mense afvuur, het reeds in die tyd van die Bush-administrasie begin, maar dit het aansienlik onder die Obama-administrasie gegroei.
Onlangs is in internasionale media berig dat pres. Barack Obama persoonlik toestemming moet gee elke keer as ’n beweerde terroris op dié manier doodgemaak word.
Heyns het syfers aangehaal waarvolgens minstens 957 mense net in 2010 in Pakistan deur sulke aanvalle gesterf het. Sowat 20% van hulle is onskuldige burgerlikes, het hy gesê.
Hy het verwys na verslae waarvolgens reddingswerkers en begrafnisgangers doelbewus geteiken word.
As dit so is, is daar geen twyfel oor die reg nie: “Daardie aanvalle is ’n oorlogsmisdaad.”
Hy het ook ’n beroep op die Amerikaanse regering gedoen om die prosedures, reëls en regsraad wat sy beleid ten grondslag lê, openbaar te maak.
Die huidige prosedure verswak die volkereg, het Heyns gesê. Dit kan wettig wees in gebiede waar ’n gewapende konflik heers, soos in Afganistan, maar baie daarvan vind plaas ver van plekke waar daar geveg word.
John O. Brennan, Obama se raadgewer oor terreur, het die aanvalle as “wettig, eties en wys” verdedig.
Hulle word bedoel om terreuraanvalle op Amerika te voorkom en Amerikaanse lewens te red, het hy gesê.
Zamir Akram, die Pakistanse ambassadeur by die VN in Genève, het gesê die gebruik van onbemande vliegtuie is onwettig, dit verkrag sy land se soewereiniteit en is teenproduktief.
“Duisende onskuldige mense, met inbegrip van vroue en kinders, is in dié willekeurige aanvalle vermoor,” het hy beweer.