Skaars ’n maand ná sy inhuldiging is pres. François Hollande van Frankryk met sy eerste flater betrap.
Sy kavalkade – ampsmotor, lyfwagte en verkeerspolisie op motorfietse – het verskeie verkeersreëls geïgnoreer en veels te vinnig gery.
Dit ondanks ’n verkiesingsbelofte dat hy sy kavalkade opdrag sou gee om alle reëls te gehoorsaam, by verkeersligte stil te hou en nie te vinnig te ry nie.
Verlede week het Hollande per motor na Normandië gery vir die herdenking van die Geallieerde landing daar in 1944.
Anders as sy voorganger, Nicolas Sarkozy, het hy nie daarheen gevlieg nie, maar per motor gereis.
’n Franse televisiestasie het sy konvooi betrap waar dit teen 140 km/h deur ’n 70 km/h-sone ry en teen 180 km/h deur ’n 130 km/h-sone.
Die konvooi is ook deur tolhekke sonder om te betaal.
Toe joernaliste hom ná sy aankoms in Normandië daarna vra, was sy antwoord eenvoudig: “Ek weet van niks nie!”