’n Britse Sea King-lugmaghelikopter met prins William agter die stuur het ’n 16-jarige meisie uit die see langs die Walliese kus gered.
Die drama het begin toe twee susters (13 en 16) in Silver Bay, Anglesey, gaan swem het. Hulle was op branderplanke toe die seestroom hulle dieper die see ingesleep het.
Hul vriende op die strand het die polisie gebel wat die lugmagbasis Valley daar naby onmiddellik laat weet het.
Daar was vluglt. (die ekwivalent van kaptein) William Wales – soos die prins in die lugmag genoem word – met ’n Sea King-helikopter aan diens en gereed.
Hy en sy bemanning het dadelik opgestyg en na die omgewing gevlieg waar twee branderplankryers na die meisies in die see gewys het.
Soos blits het William sy helikopter bo die een meisie laat hang en ’n reddingsboei aan ’n kabel is laat sak.
Die normale prosedure is dat een bemanningslid in die see spring om die slagoffer(s) bo water te hou.
Dié bemanningslid, lugbemanningsmeester (die ekwivalent van ’n adjudant-offisier) Harry Harrison, het later aan Daily Mirror vertel: “Toe ek by haar kom, was die oudste meisie uitgeput en sy het onder die water weggegly vir wat duidelik die laaste keer sou wees.”
Hy het haar opgehys en die helikopterbemanning het na die tweede meisie begin soek.
Daarna is William per radio in kennis gestel dat die kleinsus die strand bereik het en veilig is. Dit was een van die vinnigste reddingspogings tot nog toe.
Volgens die medevlieënier, vluglt. “Schmoo” Smith, het 38 sek. verloop van die oomblik dat die helikopter opgestyg het totdat dit by die toneel aangekom het.
Die twee susters is hospitaal toe geneem. Die ousus het nog die helikopterbemanning bedank en gesê sy was op die punt om te verdrink.
William het einde Mei as ’n soek-en-reddingsvlieënier gekwalifiseer en is ’n lid van die Britse lugmag se 22 Eskader in Anglesey.