Los Angeles. – Katie Holmes is so desperaat om haar dogter, Suri (6), uit die hande van die Sciëntologie-kerk te hou dat sy van Tom Cruise móét skei om alleentoesig te verkry en boonop word sy glo deur die kerk geïntimideer.
Cruise (49) was glo van plan om Suri na ’n Sciëntologie-kamp, die See-organisasie, te stuur.
Die kamp is op ’n skip, die Freewinds, waar sy sonder haar ouers sou woon terwyl sy die hoogste vorm van Sciëntologie geleer word.
Die kamp is al met ’n militêre kamp vergelyk en dis onduidelik hoe lank Suri dit sou bywoon.
Cruise is ’n toegewyde lid van die kerk. Die geloof was ’n groot twispunt in die huwelik.
Die enigste manier waarop Holmes haar dogter van die Freewinds kon afhou, is glo deur ’n egskeiding en alleentoesig.
Luidens skeidokumente wat in New York ingedien is, het Holmes al ses maande gelede besef die huwelik van vyf jaar is onredbaar.
Cruise is volgens berig word verstom deur dié openbaring en was glo heeltemal onkant betrap toe Holmes die skeisaak verlede week begin het.
Holmes leef glo in vrees omdat Sciëntologie-lede wat bang is dat sy kerkgeheime sal uitlap, haar glo agtervolg.
Hoewel sy deur die media dopgehou word, is die agtervolgers in ’n swart Cadillac Escalade en ’n swart Mercedes-Benz glo nie verbonde aan enige media-organisasie nie.
Gary Soter, ’n regsverteenwoordiger van die kerk in Los Angeles, het dié bewerings ten sterkste ontken.
Intussen word berig Holmes het die egskeidingsaak spesifiek in New York begin omdat howe daar makliker alleentoesig toeken.
Dit is maar een rede waarom Cruise die saak na Los Angeles probeer verskuif.
Die ander is omdat hy baie persoonlike belasting sal moet opdok as bewys kan word dat hy vir ’n bepaalde tydperk in New York gewoon het.
Hoewel hy ontken dat hy in New York gewoon het, het dit bekend geword dat hy ’n woonstel daar gekoop en op Holmes se naam gesit het.
Holmes voer in die dokumente aan die egpaar het minstens twee jaar in New York gewoon.
Holmes woon nou daar sodat sy juis die hofstryd in New York kan voer.