Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘Laat ons dan wildvleis eet’

Deur: André le Roux 2012-08-19 22:08
Ernstige hongersnood dreig in Suider-Afrika weens knellende droogte en wye veldbrandskade in verskeie lande.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het gesê daar is benewens toenemende veevrektes tans ’n graankos-tekort van 5,5 miljoen ton in die streek.

In sy communiqué ná die naweek se leiersberaad in Maputo het die SAOG ’n beroep op lidlande gedoen om die nodige humanitêre maatreëls te tref om dié koskrisis die hoof te bied.

Die SAOG-leiers het verslae ontvang oor veral die kosskaarste in Zimbabwe, Zambië, Malawi en Namibië.

Hulporganisasies in Zimbabwe meen hongersnood staar meer as 40% van die bevolking in die gesig en dat 11% reeds interna- sionale koshulp ontvang.

In die Kaokoland in die noorde van Namibië het die plaaslike bevolking verlede week ’n beroep op hul regering gedoen om hul behoefte aan kos met wildvleis aan te vul.

Die algemene ekonomiese situasie in die SAOG versleg ook weens die voortgesette geldkrisis in Europa, het Donald Kaberuka, voorsitter van die Afrika-ontwikkelingsbank, gewaarsku.

Ekonomiese groei in die streek het van 5,5% in 2010 tot 4,7% verlede jaar afgeneem.

Die situasie word vererger deur ’n stagnante gemiddelde inflasiekoers van 8,3%, het die SAOG gesê.

Pogings gaan nou aangewend word om R10?miljard te vind vir grootskaalse oorgrens-infrastruktuurprojekte om onderlinge handel en ontwikkeling in dié gebied te verhaas.

Oor die voortslepende politieke geskil in Zimbabwe het die SAOG versluierde kommer oor die gebrek aan vordering uitgespreek.

Die partye is gevra om ’n tydraamwerk daar te stel vir die afloop van die grondwetskrywende proses, die referendum en die verkiesings wat daarna moet volg.

Die SAOG-sperdatum is nie in die communiqué gestel nie, maar na verneem word is pres. Robert Mugabe en Morgan Tsvangirai, premier, aangesê om dié proses voor Junie 2013 af te handel.

Wat die rebelle-oorlog in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) betref, het die SAOG-leiers Rwanda direk daarvan beskuldig dat hy die sogenaamde M23-rebelle teen die DRK-magte bewapen.

“Rwanda moet sy inmenging onmiddellik staak aangesien dit ’n regstreekse bedreiging vir vrede en stabiliteit, nie net in die DRK nie, maar in die hele SAOG-streek inhou,” lui die communiqué.

’n SAOG-sending word binnekort na Rwanda gestuur om dié aangeleentheid met daardie land se regering te bespreek.

Geen vordering oor die krisis in Madagaskar ná die staatsgreep in 2009 is deur die SAOG-leiers verklaar nie.

Geen melding is ook gemaak van die grensgeskil tussen Malawi en Tanzanië en die soektog na olie deur Malawi in die Malawi-meer nie.

«Terug