Damaskus. – Minstens 24 mense is gister in Sirië dood en groot tekorte aan kos en brandstof kom in verskeie dele van die stad voor.
Dit kom nadat geweld in dié land ernstig toegeneem het sedert die bomaanval Woensdag waarin verskeie hooggeplaastes dood is – onder andere die land se veiligheidshoof en minister van verdediging.
Reuters het gisteraand berig dat die Siriese weermag Damaskus oorgeneem het. Rebelle en weermaglede het aan die land se grense geveg om beheer van die grensposte met Turkye, Irak en Jordanië.
Intussen het personeel by die Suid-Afrikaanse ambassade in Damaskus dié land verlaat uit vrees vir hul eie veiligheid, het die departement van internasionale betrekkinge aangekondig.
“Wat ek kan bevestig, is dat al die personeellede van die ambassade in Damaskus aangeraai is om na buurlande te gaan weens die veiligheidsituasie in Damaskus,” het ’n woordvoerder, Nelson Kqete, gesê.
Gister het Sirië se amptelike nuusagentskap,
Sana, berig regeringsmagte het die buurt Kaboen in Damaskus “gereinig” van “terroriste”.
Volgens aktiviste het soldate onder leiding van pres. Basjar al-Assad se broer gister helikopters gebruik in hernude aanvalle teen rebelle in die stad.
Gevegte het ook uitgebreek in die stad Aleppo.
Inwoners van Barzeh, ’n woonbuurt in Damaskus, het hul huise verlaat ná aanvalle deur Maher al-Assad se Vierde Brigade.
Daar is glo tientalle tenks in die gebied en ’n mediese span kon nie by gewonde mense uitkom nie.
Daar word geraam dat meer as 19 000 mense dood is in die opstand wat 16 maande gelede opgevlam het teen die Assad-familie, wat nou al vier dekades in die land aan die bewind is.
Meer as 2 000 Siriërs het teen gisteroggend na Jordanië gevlug. Duisende vlugtelinge het ook na Libanon en Turkye uitgewyk.
Intussen het koning Abdoellah van Saoedi-Arabië ’n beroep gedoen op Moslem-leiers om aanstaande maand ’n spitsberaad te hou oor die risiko van opstoking in Moslem-lande.
Koning Abdoellah wil eenheid onder lande in die streek verseker. Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie.
Saoedi-Arabië en ander energieryke Soenni-lande in die Golfstreek het herhaaldelik hul ondersteuning aan die Siriese rebelle toegesê.
Assad is ’n lid van die Alawiete-gemeenskap, ’n vertakking van die Sjiïtiese Islam.