Beeld

MDC kan verkiesing ver verloor, wys peiling

Deur: André le Roux 2012-08-22 22:05
Morgan Tsvangirai en sy Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC) kan volgende jaar se verwagte verkiesing in Zimbabwe ver verloor.

Dít is een van die bevindings van ’n meningspeiling in Zimbabwe deur Freedom House van Johannesburg en die Mass Public Opinion Institute in Harare wat gister bekend gestel is.

Volgens die peiling onder 1 198 Zimbabwiërs het die MDC, wat die gewraakte verkiesing van 2008 met 51% van die stemme gewen het, se steun aansienlik afgeneem.

Sy huidige steun is slegs 20% teenoor ’n soortgelyke peiling in 2010 wat die MDC se steun op 38% geraam het. Daarteenoor het die steun van pres. Robert Mugabe se Zanu-PF van 17% in 2010 tot 31% in die jongste peiling gestyg.

Dit blyk dat vrees steeds ’n belangrike rol in Zimbabwe se politieke lewe speel. Die peiling-bevindings is daarom onvolledig omdat net 53% van die 1 198 respondente bereid was om hul stem-voorkeur aan die opnemers te verklaar.

“Zimbabwiërs bly angstig en onseker oor die politieke toekoms van hul land,” het die navorsers onder leiding van die politieke ontleder prof. Susan Booysen gesê.

Kernbevindings sluit in:

  • 65% van respondente het saamgestem dat die vrees vir geweld en intimidasie mense sal laat stem vir ’n ander party en kandidate as dié wat hulle verkies;
  • 47% glo die verkiesings, wat vir volgende jaar geoormerk word, sal ’n verskil in hul land meebring;
  • 35% glo nou daardie verkiesing sal vry en regverdig wees teenoor die slegs 16% in die 2010-peiling;
  • Persoonlike ervarings van politieke geweld van die 58% wat dit tussen 2008 en 2010 beleef het, het sedertdien tot 22% gedaal; en
  • 44% glo nou die huidige tussentydse regering onder Mugabe en Tsvangirai vaar swak teen die slegs 9% in 2010. 
«Terug