‘My naam is Stephen Malcolm. Ek is by Al-Kaïda. Ek het vandag hierdie brief uit my land uit ontvang. Ek is gesond en hulle behandel my goed.”
Dít is hoe die eerste videoboodskap van die Suid-Afrikaner wat sedert November in Mali aangehou word, lui waar hy saam met ’n Sweedse gyselaar by vier gewapende mans verskyn.
Die videoboodskap op YouTube van McGown (sy voorname is Stephen Malcolm), tesame met ’n Nederlander en die Sweed wat saam met hom by Timboektoe gevang is, is die eerste bewys vanjaar dat hy steeds lewe.
Sjaak Rijke, die Nederlander, is in ’n modderhut afgeneem, terwyl McGown en Johan Gustafsson buite voor die gewapende vier mans sit.
Laasgenoemde twee hou briewe vas wat 28 Januarie vanjaar gedateer is. Dit is onduidelik wanneer die video gemaak is.
Die drie is verlede jaar by Timboektoe gevange geneem terwyl McGown van Brittanje af op pad was terug Suid-Afrika toe.
Hy het ook Britse burgerskap. Volgens die Britse hoë kommissariaat in Pretoria is Suid-Afrika die leidende land in die onderhandelinge om McGown vrygelaat te kry.
Geen terugvoering kon gister van die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking verkry word nie.
Al-Kaïda in Noord-Afrika het in Desember verlede jaar gesê dit is sy lede wat die drie mans gevang het.
Waar die drie mans vroeër vanjaar op ’n foto skoon en netjies vertoon het, lyk hulle afgerem in die jongste video.
Al-Kaïda se tak in die Magreb in Noord-Afrika, AQIM, het in Mei gesê dat McGown doodgemaak sal word as Brittanje nie aan sy eise gehoor gee nie.
Die groep eis dat Aboe Qatada, wat moontlik deur Brittanje aan Jordanië uitgelewer kan word weens erge haatspraak, eerder aan een van die Arabiese lande in Afrika oorhandig sal word.
Luidens die eis sal die groep McGown vrylaat as Brittanje daaraan gehoor gee.
Qatada is in die verlede al beskryf as Osama bin Laden se ambassadeur in Europa en is in die tronk in Brittanje.
In die jongste video verskyn die vlag van die ekstremistiese groep Ansar Dine, wat saam met ’n Al-Kaïda-faksie nou reeds twee derdes van Mali se noordelike woestyngebied beheer, insluitend Timboektoe.
Kyk die video