Beeld

Mediaman se arres bedreig Britse leier

Deur: Leopold Scholtz 2012-05-31 23:33
Die arrestasie van Andy Coulson, gewese mediaraadgewer van David Cameron, op aanklag van meineed is nog ’n terugslag vir die Britse premier.

Coulson was ook ’n redakteur van die toegemaakte skandaalblad News of the World, wat sy verslaggewers tot onetiese gedrag aangemoedig het om nuus te kry. Hulle het onder meer selfoonboodskappe onderskep.

Dié affêre het die skandaalpers se intieme bande met agtereenvolgende regerings – en Cameron persoonlik – oopgevlek. Politieke waarnemers meen dit het Cameron al aansienlike skade berokken.

Coulson was as Cameron se mediaraad­gewer nóg nader aan die premier as ander hoofrolspelers in die drama, soos Rebekah Brooks, ook ’n gewese redakteur van News of the World.

Sy en haar man is op ander klagte in hegtenis geneem.

Coulson word daarvan aangekla dat hy gelieg het toe hy in 2010 – toe hy nog in Cameron se kantoor gewerk het – in die hooggeregshof in Glasgow getuig het in ’n meineed-hofsaak teen die Arbeider-politikus Tommy Sheridan.

Coulson is eergisteroggend by sy huis in Londen in hegtenis geneem, na ’n polisiekantoor in Glasgow geneem en ondervra. Eergisteraand is hy amptelik aangekla.

In die lig van Coulson se intieme bande met Cameron – en die felle wyse waarop die premier sy raadgewer aanvanklik verdedig het – begin waarnemers vra hoe lank Cameron nog as regeringshoof kan aanbly.
«Terug