Den Haag. – Die laerhuis van die Nederlandse parlement het ’n mosie ter afkeuring van plaasmoorde in Suid-Afrika verwerp omdat die mosie slegs die Afrikaners as slagoffers noem.
Die mosie is tydens die behandeling van die departement van buitelandse sake se begrotingsdebat voorgestel deur Raymond de Roon, lid van die verregse Partij voor de Vrijheid (PVV).
Die mosie is net deur twee kleiner regse partye gesteun en deur die hoofstroom-partye verwerp.
Frans Timmermans, minister van buitelandse sake, het die LP’s aangeraai om die mosie nié te steun nie.
Hy het misdaad in Suid-Afrika “’n groot probleem” genoem, maar bygevoeg dat die regering “nie onderskei tussen Afrikaners, bruin mense of swart mense” wanneer die moorde beoordeel word nie.
“Dit bly so dat veral die swart bevolking die grootste slagoffer van dié geweld is. Nederland beywer hom graag vir die intensivering van die beskerming van mense in Suid-Afrika teen misdaad, maar nie spesifiek gerig op een bevolkingsgroep nie.”